Daar is blykbaar geen sport waarvan Johen Pietersen nie hou nie.
Deesdae is Johen (12) ’n bobaasjudoka en lid van die Louwville-judoklub, maar hy het byna aan al die sportsoorte in die skool deelgeneem. Met al sy prestasies en liefde vir sport is hy een van Weslander en Let’s Play se sportsterre.
Hy het sy skoolloopbaan in 2013 by Laerskool Vredenburg begin en hy het toe al in atletiek, rugby, krieket en tennis uitgeblink.
Rugby en krieket was egter sy twee gunstelingsportsoorte en in graad 2 het hy hokkie by sy besige sportskedule gevoeg.
Deesdae beoefen Johen net rugby, hokkie en judo.
Dit is juis in judo wat hy uitgeblink het nadat hy in 2017 vir die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Bloemfontein deelgeneem het.
In 2018 beoefen hy weer ’n klomp sportsoorte en het hy vir judo weer aan die SA kampioenskap deelgeneem waarna hy sy Wes-Kaap-kleure ontvang het.
Vanjaar het hy egter besluit om hokkie sy hoofsportsoort te maak.
Harde werk het daartoe gelei dat hy die Boland-Barlinka se o.13-span gehaal het. Saam met sy span het hy goud by dié toernooi gewen.
Volgens sy ma, Francis, is Johen se sport en diere vir hom alles. “Hy sal gereeld sport oefen en ook sy diere baie liefde en aandag gee. Sy troeteldiere is katte en honde, maar hy is lief vir enige dier,” verduidelik sy.
Volgens Johen is sy plan om meer in sy sport te groei en droom hy daarvan om nasionale kleure te kry.