Drie vennote span nou saam om die nuutgestigte Paternoster Jiu Jitsu- klub se toekoms tot voordeel van die jeug in Paternoster te verseker.
Dié drie vennote is House of Rstar van Langebaan, die Paternoster-groep en die Hoopsig-nieregeringsorganisasie in Paternoster.
Die Paternoster-hotel gee die klub elke week gratis ruimte om te oefen.
Volgens die afrigter Wimpie Rossouw verseker die vennootskap met Richard van Bergen se gevestigde Langebaan-Rstar-klub onder meer deelname aan erkende kompetisies.
“Dit is noodsaaklik om by ‘n klub geaffilieer te wees om aan kompetisies te mag deelneem én ook vir die gradering van die lede. Ons vennootskap met House of Rstar van Langebaan maak dit moontlik.”
Volgens Rossouw is lidmaatskap van die Hoopsig-Jits-klub gratis.
“Ons het reeds 25 aktiewe lede wie se ouderdomme tussen nege en 19 jaar wissel.
Die sport bied groot waarde vir die jeug van Paternoster, want dit kweek dissipline, respek en bevorder sekere lewensvaardighede.”
Hoopsig verwelkom ook dié vennootskap. Volgens Alrika Hefers, bestuurder van Hoopsig, is vennootskappe soos dié belangrik om kundigheid te betrek. “Jits lewer ‘n waardevolle bydrae om die Hoopsig-model van jeugbemagtiging verder uit te brei.”