Ja, in ’n stadium wás sy kwaad daaroor dat sy in die bestek van vyf jaar vier lede van haar gesin van ses verloor het. Haar noodkreet na die Here was: “Here, hoekom uit een gesin so baie? Op een slag . . . só baie?”
Maar Janice Mahoney (44), ’n kankeroorwinnaar van Vredenburg, is vandag hier, staande, saam met haar enigste oorlewende gesinslid, haar suster, Denise Huyster (55), wat sy “Nana” noem.
Limfkanker is in Mei 2017 by hul ma, Margaret Greeff (73), gediagnoseer en sy is in Junie 2017 dood. In Januarie 2020 is servikskanker by haar suster Amelia Greeff (47) gediagnoseer en sy is in Mei 2020 dood. Hul pa, Dennis Greeff (71), het in Februarie 2020 ’n hartaanval gehad en het dieselfde dag sterf. Borskanker is in April 2017 by hul ander suster, Verity Greeff (52), gediagnoseer – op haar dogter, Darienne, se verjaarsdag. Sy is oorlede op 8 Oktober 2022, ná ’n vyf jaar lange stryd.
Janice se stryd teen kanker, wat sy as haar journey beskryf, het in Maart 2021 begin.
“Soos die een gediagnoseer raak, so fokus jy maar net op die ander een wat moet gesond raak.”
Daar was nie tyd om te rou nie.
Die begin van Janice se kankerreis was nie moeilik nie. Sy moes haar geloof behou, want sy het geweet haar gesin en ander oorblywende familielede het haar nodig. Janice is dokter toe nadat sy een oggend ’n harde knop in haar bors gevoel het. Hy het haar vir ’n mammogram gestuur.
“Nou lê ek daar in die kamertjie. Ek moet wag. Vader, vir wat wag ek nou?” Dit was senutergend. “In jou gedagtes hét jy dit reeds, want daar is mos nou ’n familiegeskiedenis van kanker.”
Die radioloë het kom verduidelik en aan haar genoem dit lyk soos kanker, maar hulle gaan haar eers vir verdere toetse stuur.
Toe Janice by die radioloë uitstap, het sy net geweet – dit is kanker. Haar vrese is ná twee weke bewaarheid – sy het fase 1-borskanker.
Sy het nog gedink dit is nie so erg nie, want Verity lewe nog en sy het fase 4-kanker.
Maar sy het al die pad huis toe gehuil. Op ’n tydstip het sy in die motor aan die slaap geraak, en toe sy wakkerskrik, gesien haar man, Liam, sit en huil.
“Here, wat sê ek nou vir Liam? En vir ’n oomblik het ek geweet dit is vrees.
Sedert hy in 2007 deel van die familie geword het, moes hy al sien hoe Janice drie gesinslede aan die dood afstaan weens kanker. “Hy’t gesien waardeur hulle gaan.”
Een oggend het sy voor die spieël gestaan en net onophoudelik gehuil asof sy nou net haar mense begrawe het. “Ek was so, so hartseer. Ek wil na Mammie toe kon gegaan en sê Mammie, ek is seer. Ek kom net nie reg nie. Waarnatoe gaan ek?”
Maar, sy het haar trane afgevee en vir haarself gesê sy het nou klaar gehuil. “Nou huil jy nie meer nie, want as jy nou so aanmekaar huil, gaan dit jou journey moeilik maak.” Sy het vir die Here gevra dat sy nie van die chemo sieklik raak nie, dat sy nie gewig verloor nie, en dat Hy haar gesond sal maak.
Hierna het ’n dubbele mastektomie, borsrekonstruksie en agt chemoterapie-sessies gevolg.
Janice het die woord “skielik” as haar leuse geneem. Dit kom uit ’n skrifgedeelte waar Paulus en Silas in die gevangenis was en God “skielik” dinge laat gebeur het om hulle te red.
“Elke keer as ek vir ’n scan of ’n MRI gaan, het ek net gesê: Janice, jy gaan nie nou stres nie, want SKIELIK het die Here vir jou deurgekom; SKIELIK is jy gesond.”
Daar was nie een dag tydens chemo dat sy weggewys is omdat haar bloedtellings nie reg was nie. “Ek het darem vir jou beet geëet sodat my tellings kon reg wees, hoor. Verity het seker gemaak dat ek rou beet eet, want sy het gesê dit help.”
Verity en Denise het haar na haar eerste chemo-sessie vergesel, en omdat Verity alreeds soveel keer daardeur is, was dit vir Janice makliker, behalwe vir die gemmer- bon bons …
’n Goedbedoelende kollega het haar aangeraai om dit tydens chemo te eet om die naarheid weg te hou.
“In die chemo-kamer eet ek toe twéé pakkies bon bons, die sterke en die mild een, en piesangs.”
Ná die tyd het sy selfs ’n platter for one by ’n visrestaurant in die Kaap bestel.
Verity, wat ook die dag vir chemo gegaan het, het nogal gesê sy gaan maar ietsie kleins eet. Maar Janice was honger.
Die gevolge sal sy nooit vergeet nie, en botterige vis én gemmer- bon bons kan sy tot vandag toe steeds nie oor haar lippe kry nie.
Janice het deur haar eerste vier sessies gaan werk, net om seker te maak dat sy mense rondom haar het. In die aand by die huis het Liam en haar kinders haar gehelp.
“Jy moet sielkundig voorbereid wees as jy deur dit gaan. Verity was ’n sterk mens. Ek dink my ma en Amelia nie.”
Haar ma het gesê sy is 73 jaar oud en het ’n goeie lewe gelei, dus het sy vrede gehad vir dit waardeur sy moes gaan. Sy het vir chemo gegaan, maar dit het haar baie siek gemaak en sy wou nie aan haar laat sny nie. “Ons as kinders wou egter gehad het sy moes gaan vir die operasie sodat ons haar langer by ons kon gehad het, maar sy wou nie.”
Amelia het breinvliesontsteking gekry – 19 jaar voor haar dood– en moes destyds weer leer loop, praat en skryf. Sy het dus reeds ’n verswakte immuunstelsel gehad. Toe sy kanker kry, het dit haar baie vinnig en baie erg afgetakel. Janice en ander familie het haar probeer kry om te eet, maar sy het gesê sy kan nie meer nie. Sy is vyf maande ná haar diagnose oorlede.
Janice se kanker is in Oktober 2021 genees, maar sy moes haar sessie klaarmaak tot aan die begin van November 2021. “Dis nie ’n journey wat jy saam met ander kan meemaak nie; jy moet op jou voete bly en net by die Here wees.”
Janice raak aangedaan as sy praat van Psalm 23 se “al gaan jy deur ’n dal van doodskadu, die Here is altyd met jou …”
“Die Here is altyd by my, en ek kan dit sê omdat ek in daai donkerte wás.”
Terwyl sy siek was, moes sy nog die verlies van haar geliefdes óók verwerk.
“Alles kom terug na ’n mens toe. Die seerste seer wat ek gehad het, was toe Verity verlede jaar gesterf het. ”
Hulle twee was op dieselfde reis, en het saam daardeur gegaan.
“Sy was my go-to; my sterkste sussie. Toe sy sterf, was alles anders. Die seer was onbeskryflik. Almal en alles wat ek verloor het, het voor my afgespeel. Ek was kwaad vir Verity oor hoekom sy my net so los en ek nou hierdie journey alleen moes aanpak, maar dan raak ek stil en besef elkeen se tyd is vir hom of haar uitgesit.”
Verity het ook nie gesê dat sy swakker raak of gekla nie. Haar mense het nie besef dat sy nie meer lank het om te leef nie, behalwe as sy gehuil het van pyn. “Die middag van haar afsterwe kon sy vir elkeen wat langs haar bed gestaan het, elkeen by die naam, ’n boodskap gee. Min het ons geweet.”
Ten spyte van baie vriende en familie wat haar ondersteun, kom Janice tog nog soms by die huis, dan voel sy net daai leemte. “Ek het ’n ma nodig. Ek het ’n pa nodig. Ek het iemand nodig wat mý verstaan. ’n Mens besef nie wat jy het totdat jy dit verloor het nie.”
Vir nou, het Janice besluit, wil sy net die vrede van die Here najaag en in vrede met almal lewe.