Media24 het amptelik goedkeuring van die Mededingingskommissie gekry om sy portefeulje gemeenskapskoerante aan Novus Holdings te verkoop.
Media24 het dié aankondiging verlede Donderdagoggend (31 Oktober) gedoen.
Die verkooptransaksie sluit 37 uitgawes van plaaslike koerante in, met ’n ABC van meer as een miljoen eksemplare per week.
Novus Holdings, ’n markleier en een van Afrika se grootste drukproduksiebedrywighede, werk nou saam met die uitgewers van plaaslike koerante om te verseker dat alle uitgewersbedrywighede ononderbroke bly.
André van der Veen, die uitvoerende hoof van Novus, het sy entoesiasme uitgespreek oor die samewerking met die personeel en bestuur van gemeenskapskoerante. Hy gee die versekering dat Novus daartoe verbind is om waarde aan lesers en adverteerders te bied, en erken die belangrike rol wat gemeenskapskoerante in die samelewing vervul.
Novus is toegewy aan die ondersteuning en verbetering van hierdie belangrike publikasies.
Esmé Smit, hoofbestuurder van Gemeenskapsnuus, is ewe opgewonde oor die geleenthede wat hierdie oorgang vir die gedrukte asook die digitale hiperplaaslike nuuslandskap bied. Sy beklemtoon die unieke en gekoesterde plek wat hiperplaaslike nuusmedia in die hart en gedagtes van die gemeenskappe wat dit bedien, beklee.
“Die oorgang het ten doel om die gehalte van ons publikasies te verbeter en te verseker dat hulle toepaslik bly en verbind is met die gedeelde ruimte waarin ons woon,” beklemtoon Smit.
“Ons sal voortgaan om daar te wees wanneer die meeste winkeldeure die eerste keer oopmaak; verslag doen oor plaaslike sport, skolenuus, munisipale nuus, plaaslike geleenthede; en altyd lesers inlig oor opbouende en ook enige onsmaaklike praktyke in ons gebiede. Ons sal aanhou om ons doel te dien, naamlik om ’n ware vriend vir elke huishouding in ons verspreidingsgebiede te wees.”
Getroue lesers sal onthou Weslander het sy omslagprys in Junie na R4 verminder in sy strewe om meer toeganklik vir die plaaslike gemeenskap en sy lojale lesers te wees.
In reaksie op die jongste aankondiging sê Stefan Kolver, die uitgewer van Weskus Media, adverteerders sowel as lesers kan gerus wees dat die koerant in ’n gunstige posisie is en een van min verkoopte koerante is wat met ’n 13%-groei in sirkulasie oor die afgelope drie maande en ook 17% beter as dieselfde tydperk in 2023 kan pronk.
“Gemeenskapskoerante in gedrukte vorm is nog springlewendig, terwyl ons ook stelselmatig ons aanlyn nuusaanbieding verbeter. Plaaslike nuus word steeds ongeëwenaar aangebied deur verskeie plaaslike titels, hetsy in private besit of mediagroepe. Weslander sal voortbou op sy 52-jaar-tradisie van gehalte-inhoud en dienslewering.
“Ons bedank elk van ons lesers en adverteerders vir hul volgehoue vertroue en ondersteuning van die produk, en geduld terwyl ons hierdie opwindende nuwe hoofstuk inlui.”
Om met ons in kontak te kom vir algemene navrae, nuuswenke of om te adverteer, skakel ons gerus by 022 713 1251 of stuur e-pos na nuus@weslander.co.za. Die plaaslike koerante wat by die transaksie tussen Media24 en Novus Holdings ingesluit is, bedien verskeie streke, insluitend die Oos-Kaap, die Vrystaat, die Noord-Kaap, die Bolandstreek, en die Kaapse Skiereiland en township-gebiede van Kaapstad. Hierdie huishoudelike koeranthandelsmerke sluit in TygerBurger, People’s Post, City Vision, BloemNuus, BloemExpress, Vista, VrystaatKroon, NoordkaapBulletin, Kouga Express, PE Express, Mthatha Express, UD News, District Mail & Helderberg Gazette, Eikestadnuus, Hermanus Times, Paarl Post, Standard Breederivier Gazette, Swartland Gazette, Weskusnuus en Weslander.