Herstelwerk aan die Wes-Afrika-kabelstelsel is tans onderweg nadat ‘n foutiewe vertakkingseenheid aan die kus van Namibië aangetref en herwin is. Die herstelwerk word op die skip die Leon Thevenin gedoen.

Die Wes-Afrika-kabelstelsel (WACS), ‘n ondersese optieseveselkabel van 14 500 km, wat Suid-Afrika via Yzerfontein as ‘n landingspunt met Europa verbind, ondergaan tans nood-instandhoudingswerk.

Dit volg nadat ‘n foutiewe vertakkingseenheid opgespoor is, het Robert Kraai, die sake-ontwikkeling- en bedryfspesialis van OpenServe, Dinsdag 10 Mei in ‘n plasing op LinkedIn bevestig.

Tim Ekandjo, ‘n kommunikasiepraktisyn van MTC, ‘n mobieletelekommunikasiemaatskappy in Namibië, het op sy beurt in ‘n persverklaring bevestig die foutiewe eenheid is naby hul kus gevind en herwin.

Volgens die verklaring het nood-herstel- en instandhoudingswerk omstreeks 02:00 verlede Sondag (1 Junie) begin en dit sal na verwagting tot 16 Junie om 08:00 voortduur.

Sommige internetgebruikers in Suid-Afrika het sedertdien stadiger spoed ervaar nadat MTC bevestig het dat mense wat vir hul internetverkeer op die kabel staatmaak, geraak sal word.

Volgens ‘n artikel op MyBroadband se webblad is opgelet dat baie meer klagtes oor stadiger internetverbinding uit die Kaap as uit Gauteng ontvang word.

Volgens Kraai het ‘n Wacs-verteenwoordiger in ‘n kennisgewing verduidelik dat die foutiewe vertakkingseenheid nou met ‘n nuwe vertakkingseenheid vervang sal word.

“Toetse wat op die nuwe eenheid uitgevoer is, het bevestig dat dit 100% funksioneel is. Die herwonne eenheid sal intussen na ‘n verskaffer geneem word vir verdere ontleding om vas te stel wat skeefgeloop het terwyl die nuwe eenheid intussen geïnstalleer sal word.

“Tot dusver verloop die herstelwerk volgens plan. Verkeer sal herstel word sodra alle herstel- en na-hersteltoetse uitgevoer is en seinvloei van Suid-Afrika af na Lissabon (Portugal) en dan na Londen bevestig is.”

Die vordering van die herstelwerk word noukeurig gemonitor, het Kraai in sy plasing gesê.

Die kabelstelsel gaan gedurende die herstel- en instandhoudingswerk nie aktief wees nie. Die datums is egter ook onderhewig aan verandering as gevolg van veranderende weersomstandighede, verduidelik Ekandjo aan kliënte.

Kraai meen egter dat alle betrokke partye nou saamwerk om te verseker dat herstelwerk binne die geskeduleerde tydraamwerk sal plaasvind.

Instandhouding aan die kabel is volgens MTC ‘n gereelde verskynsel en word gewoonlik geskeduleer om herstelwerk, opgraderings of ander noodsaaklike werk aan die kabel moontlik te maak.

Die kabel, wat in 2009 by Yzerfontein as ‘n landingspunt in Suid-Afrika uit Portugal aangekom het, verseker direkte internetverbinding tussen Namibië, Wes-Afrika, die Verenigde Koninkryk en die res van die wêreld.

Die ander landingspunte is onder meer in Namibië, Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Kameroen, Nigerië, Togo, Ghana, Ivoorkus, die Kaap Verdiese- asook die Kanariese eilande, Portugal en die Verenigde Koninkryk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025