Internasionale pryse vir onse Ambrocher

’n Leerder van Langebaanweg Primêr het haar skopboksvaardighede die afgelope vakansie in Amerika ten toon gaan stel.


’n Leerder van Langebaanweg Primêr het haar skopboksvaardighede die afgelope vakansie in Amerika ten toon gaan stel.

Ambrocher van Wyk (12) is terug by die huis met ’n trofee so groot soos sy nadat sy die voorste prys by die Sportgevegkuns-wêreldkampioenskap verower het.

Die kompetisie is in Orlando in die VSA gehou.

Ambrocher het die Langebaan-skopboksdojo verteenwoordig en puik teen vegters uit die res van die wêreld gevaar.

Sy het op die eerste dag reeds haar merk in die aaneenlopende skopbokskompetisie gemaak en was tweede in haar afdeling vir vegters tussen 12 en 13 jaar.

Die tweede dag het die graad 6-leerder aan die puntegeveg-bokskompetisie deelgeneem waar sy vyfde gekwalifiseer het.

Daarna was dit die grote – kwalifisering vir die presidensiële­keuringspan, die MMA (mixed martial arts).

“Sy het ná ongelooflike gevegvernuf en goeie taktiek die eerste plek in die MMA-afdeling vir 12-13-jarige beginners en ’n tweede plek in nog ’n vertoongeveg in die gevorderde afdeling behaal,” verduidelik Jani Matomaki.

Benewens haar trofees en goeie prestasie het Ambrocher die kassie op internasionale vlak gehaal aangesien die toernooi op die welbekende Amerikaanse sportkanaal ESPN uitgesaai is.

You need to be Logged In to leave a comment.