LANGEBAAN – Die toekoms van Club Mykonos hang in die weegskaal, maar die bestuur is hoopvol dat goeie dae weer sal kom.
Altesaam 314 personeellede van Club Mykonos is tot Desember vanjaar, sonder betaling, tuis weens Covid-19 en die nasionale inperking.
En sommige van dié personeellede sal selfs nog langer moet wag voordat hulle weer kan gaan werk.
By navraag het John Kilroe-Smith, hoofbestuurder van die gewilde Club Mykonos-vakansieoord, aan Weslander gesê die oord het 355 personeellede, van wie slegs 41 werknemers in hierdie tydperk met hul werk mag voortgaan. Van dié 41 is 30 personeellede wat by die veiligheid van die oord betrokke is.
Volgens Kilroe-Smith is voorspel dat Suid-Afrika eers in Desember vlak 1 van die inperking sal bereik wanneer vakansieoorde en die meeste ondernemings in die toerismesektor weer sal mag sake doen.
Hy sê die nasionale minister van toerisme, Nkhensani Kubayi-Ngubane, het onlangs dié aankondiging op ’n web-seminaar waarby Club Mykonos ook ingeskakel het, gedoen.
“Die voorspelling is gedoen op grond van die huidige Covid 19-besmettingskoers,” verduidelik hy.
Dit beteken Club Mykonos se personeel sal moontlik eers in Desember na hul werksplek mag terugkeer.
“Ongelukkig kan ons nie al die personeel gelyk terugbring nie. Ons moet hulle in fases terugbring. Dit gaan afhang van hoeveel toeriste die oord besoek en in die eenhede oorbly.”
Club Mykonos se personeel sal tot einde Junie deur hul werkgewer geld van die regering se nuut geïmplementeerde tydelike werkgewer/werknemer-verligtingskema (TWVS-skema) ontvang, waarna hulle dan self van die gewone werkloosheidversekerheidsfonds (WVF) sal moet eis.
“Tshifhiwa Tshivhengwa, die uitvoerende hoof van die toerisme-sakeraad, is egter besig om met die regering te onderhandel om hierdie TWVS-skema tot einde Desember te verleng sodat ons hierdie voordeel namens ons personeel kan eis.”
Kilroe-Smith sê verder: “Die inperking het ’n uitwerking op Club Mykonos, ons restaurante, sakevennote, personeel en bestuur, aangesien ons letterlik geen inkomste het nie. Ek is egter vol vertroue dat ons hierdie moeilike tyd sal oorleef ??om weer gehalte-vakansies aan ons gaste te bied.
“Daar sal gewis ’n paradigmaverskuiwing wees in die manier waarop alle ondernemings, insluitend onsself, in die toekoms funksioneer, maar ons is bereid om die uitdagings te oorkom om seker te maak dat ons personeel en gaste kan voortgaan om Club Mykonos veilig te geniet.
“Club Mykonos lok elke naweek sowat 3 500 gaste na die Weskus. Die besteebare inkomste wat hierdie gaste na die omgewing bring, het ’n rimpeleffek op die vulstasies, winkelsentrums, winkels en ’n verskeidenheid ontspanningsaktiwiteite.
“Solank die toerismebedryf nie in staat is om sake te doen nie, ly die hele ekonomie in ons omgewing.”
Weslander het Dinsdagoggend by Mykonos Casino gaan aanklop.
Hoewel die casino se personeel ook nie op die oomblik kan werk nie, “is ons deel van die Tsogo Sun-groep, ’n groter korporatiewe maatskappy, en ons situasie lyk heel anders,” het Clive van Groeningen, hoofbestuurder van Mykonos Casino, verduidelik. Mykonos Casino het as deel van Tsogo Sun teen Dinsdagmiddag amptelike kommentaar gestuur: “Tsogo Sun Gaming se menslikehulpbronne-afdeling doen alles in sy vermoë om ons werkers te beskerm en te help.”