Inner Wheel Saldanha vier 3 dekades van omgee-werk

Inner Wheel Saldanha (IWS), deel van ’n honderd jaar oue internasionale vroueorganisasie, vier vanjaar sy dertigste verjaarsdag.


Inner Wheel Saldanha (IWS), deel van ’n honderd jaar oue internasionale vroueorganisasie, vier vanjaar sy dertigste verjaarsdag.

Volgens dr. Lynette Rossouw, klubpresident, is die Saldanha-tak op 30 Julie 1994 by die Langebaan Lodge gestig.

’n Glansryke geleentheid om die mylpaal te herdenk is Saterdag 24 Augustus by die Fossielpark tussen Vredenburg en Hopefield gehou.

Carol Podetti-Ngono, stigter en uitvoerende hoof van Valued Citizens Initiative, het meer oor dié verdienstelike organisasie en hul samewerking met IWS vertel.

Die twee organisasies werk onder meer met ’n groep leerders van die New Vredenburg Hoërskool.

Die Valued Citizens Initiative is ’n organisasie sonder winsoogmerk en is in 2001 in Gauteng gestig om skole holisties te ontwikkel as ekosisteme waarop kinders, ouers, maatskaplike werkers, opvoeders en skoolhoofde trots kan wees.

Dit fokus op gedragsverandering en benut ontwikkelings- en sagtevaardigheidsprogramme om leerders se selfvertroue, kreatiwiteit, aanspreeklikheid en ’n sin van doelgerigtheid op skoolvlak te ontwikkel.

Die groep leerders was die afgelope jaar ook deel van die Bridging for Life-program en sal tot hul laaste jaar op skool daarmee voortgaan.

Bridging for Life is ’n tweejaar- leierskapsprogram vir gr. 11-12-leerders om hulle tot suksesvolle toetrede tot die hoëronderwys- en opleidingsektor te lei, wat weer sal bydra tot hul indiensneembaarheid.

Die eerste amptelike Inner Wheel-vergadering ter wêreld is op 10 Januarie 1924 gehou en dié datum staan nou as Internasionale Inner Wheel-dag bekend.

In 1934 is die Vereniging van Inner Wheel-klubs in Groot-Brittanje en Ierland gestig.

Hoewel die organisasie oorspronklik vir vroue van lede van die Rotariër-beweging gestig is, is geen Rotariër-verbinding nou nodig nie en kan enige vrou ouer as 18 aansluit.

Die Saldanha-klub vergader maandeliks, samel geld in en skenk dit aan ’n groot verskeidenheid liefdadigheidsorganisasies.

Die vroue van Inner Wheel streef daarna om ware vriendskap te bevorder, persoonlike diens aan te moedig en internasionale wedersydse begrip te bevorder.

. Kontak Rossouw by 083 350 0894 vir meer besonderhede oor Inner Wheel Saldanha.

You need to be Logged In to leave a comment.