Die Weskus se bekende vis- en voëlgetalle neem af en dit sal ernstige ingryping kos om dié trekpleisters van die streek te behou.
Dit was die boodskap wat duidelik in Saldanhabaai-watergehalte-trustforum (SBWQTF) se nuutste verslag, wat handel oor die stand van die Baai, uitgekom het.
Die boodskap oor die toestand van die plaaslike ekologie is 20 Oktober bekend gemaak.
Volgens die verslag het die getalle van wit stompneus, harders en verskeie spesies aansienlik in die afgelope jare afgeneem weens die bedreiging van vis en voëls se habitat en voedselbronne.
“Hoewel die gemiddelde visvangste in Saldanhabaai en die Langebaan-strandmeer van 70 wit stompneuse na 30 per vangs afgeneem het, is die jong visse se getalle bevredigend,” sê dr. Barry Clark, omgewingskonsultant wat al vir jare die forum se jaarlikse moniteringsverslag opstel.
Hy sê dit sal goeie bewaring neem om die getalle so te hou. “Stompneus is in ander gebiede aan die Weskus, waar hulle voorheen volop was, totaal uitgewis. Saldanhabaai en die strandmeer is van die laaste plekke waar dié vis voorkom. Dit sal rehabilitasie in die Baai verg om die spesies gesond te hou,” sê Clark.
Voorstelle sluit in ’n beperking op die getal vangste en om kleinskaalse vissers se planne om in bewaringsgebiede binne die Langebaan-strandmeer vis te vang, te keer.
Bekommernis is ook in die verslag uitgespreek oor die moontlike uitwerking wat die beplande akwakultuurontwikkelingsone op die Saldanhabaai- én die Langebaanstrandmeer mag hê. “Dít in die lig van die departement van landbou, bosbou en visserye se planne om Saldanhabaai in ’n nasionale akwakultuurhub te omskep.” Hoewel die Baai reeds skulpvis en ’n visplaas huisves, is die departement se visie om die totale omgewing vir akwakultuur na 7 872 ha te verhoog, wat huidige plase sal insluit.
Behalwe die hindernis wat mosselvlotte vir watersport kan bied, is die moontlikheid van besoedeling, selfs na Langebaan-strandmeer weens strome, as gevolg van meer visplase, ook deur Clark uitgelig.
“In die geheel gesien, lyk die Baai stabiel,” het Clark afgesluit. “Dit gaan harde werk verg om na alles om te sien weens al die ontwikkeling wat vir die gebied beoog word. Ek is nie teen ontwikkeling nie, maar wel teen onverantwoordelike ontwikkeling.”