Sy het gedink haar dogter het kom kuier, toe wag ’n ander slegte verrassing op haar.
’n Inwoner van Saldanha (60) en haar bejaarde ma (86) het Saterdagmiddag 1 Oktober van Vredenburg af na hul huis in Kusweg, Saldanha teruggekeer en ’n inbreker in die woning betrap.
Volgens AO. Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie het die ouer vrou met hul aankoms die hek oopgesluit en die dogter het die motor ingetrek. Sy het uitgeklim en gesien die huis se voordeur staan oop.
Die dogter het aanvaar háár dogter het hulle met ’n besoek kom verras en sy het binnegegaan en ’n swart sak op die vloer gesien gelê. Steeds oortuig dis haar dogter wat in die huis is en dat die sak aan haar behoort, het die vrou glo haar dogter se naam uitgeroep maar geen reaksie gekry nie.
Dit was toe sy in die TV-kamer instap toe die inbreker met arms vol drank byna in haar vasgeloop het.
Volgens die polisieverslag het die vrou toe die man agtertoe gestamp waarna hy een van die bottels oor haar kop stukkend geslaan het. Hy het daarna ’n tweede bottel oor haar kop stukkend geslaan en sy het op die vloer inmekaar gesak. Die man het haar toe glo beveel om haar oë toe te maak en haar gedreig dat hy haar verder gaan seermaak as sy nie doen wat hy van haar vra nie.
Intussen het sy nie geweet waar haar ma is nie en of sy ook besluit het om in die huis in te kom nie.
Kotze sê die vrou het ’n rukkie lank met haar oë toe op die vloer gelê en toe probeer loer wat om haar aangaan. Sy het gesien die man is nog besig om in die huis rond te krap. Hy het gesien haar oë is oop en het haar weer gedreig en beveel om haar oë toe te maak. Sy het gemaak soos hy beveel het en net daar bly lê tot hy weg is. Die slagoffer se ma wat steeds buite die huis besig was en nie bewus was van die gebeure wat hom in die huis afspeel nie, het gesien hoe ’n man met onder andere ’n televisie in sy arms verby haar hardloop en uit die erf verdwyn. Sy is nie beseer nie.
Die dogter is met ernstige snywonde aan haar kop gehospitaliseer.
Kotze sê die rower het die deur oopgedwing om toegang tot die huis te kry.
“Ons wil graag ’n beroep doen op inwoners om baie versigtig te wees en eerder nie sommer net in te gaan by ’n perseel wat jy weet behoort gesluit te wees nie. Wees eerder veilig en bel die polisie om te kom ondersoek instel,” het Kotze gepleit.
Enigeen met inligting wat die ondersoek kan bespoedig word gevra om sers. Khangelani Khabisoyo by 022 714 8300 te bel.