Reënbaadjies, breyani en lekkernye is Donderdag danksy die Zakah-forum aan die leerders van Panorama Primêr uitgedeel.
Sjeik Omade Nur, imam van die Vredenburg-moskee, sê hy sien gereeld die nood in die Louwville-gemeenskap raak en het daarom na Panorama uitgereik.
“Ek is reeds drie jaar in die gemeenskap betrokke en sien die nood van ons kinders. Ons deel byvoorbeeld weekliks kos vir 300 kinders in die Hopland-area uit en help 50 gesinne met basiese eetgoed.
“Ek dink ons moet almal meer vir mekaar doen – individue, hooggeplaastes en sakelui. Om te gee, is een van die beginsels waarop Islam fokus en ek hoop die leerders sal eendag in hul gemeenskap terugploeg soos ons nou met hulle doen,” sê die sjeik.
Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Zakah-fonds (Sanzaf) het die skenking uitgedeel. Zakah is liefdadigheidswerk wat onder die sleutelbeginsels van Islam tel.
Lee-Aan Davids-Hartzenberg, waarnemende skoolhoof van Panorama Primêr, het Sanzaf bedank vir hul onbaatsugtige gebaar.
Marius Koen, Saldanhabaai se burgemeester, en raadsheer Elize Steyn was ook by die geleentheid. Koen het die leerders aangemoedig om hul skoolloopbane te voltooi.
“In dié munisipale gebied bereik slegs 40% van leerders wat graad 1 begin, matriek. Dit beteken die grootste deel van julle val uit die stelsel. “Ek wil julle aanmoedig om in die skool te bly – dit is die beste manier om die grootste verskil in jul lewens te maak.”
Benewens eetgoed het die leerders ook reënbaadjies, handskoene en mussies ontvang.
Nur het inwoners aan-gemoedig om ook “terug te gee aan hul gemeenskap” en sê daar is planne vir verdere vaardigheidsontwikkeling vir plaaslike jongmense.