Die nabotsing van haar seun se identiteit en vals profiele op sosiale media het die Loubser-gesin van Langebaan se lewe verander.
Volgens Carolin Loubser word haar seun al ‘n geruime tyd deur iemand op Facebook nageboots, wat sy veiligheid in gedrang bring.
Sedert April, vertel Loubser, het haar seun se lewe geheel en al verander. Loubser verduidelik die vals Facebook-profiele is geskep en die persoon daaragter het as haar seun begin dreigboodskappe stuur, wat baie mense steeds glo.
Hierdie aksies het kwade gevoelens onder baie geskep, wat van haar seun ‘n teiken van doodsdreigemente gemaak het. Dit het Loubser vir haar kind se lewe laat vrees.
“Ons was by die polisie om ‘n klagte aan te meld, maar hulle kon ons nie veel help nie. Volgens die polisie is daar nie genoeg ‘inligting’ om dit verder te neem nie en hulle het ook aan my vertel dat ek nie genoeg bewyse het oor wie ek vermoed die persoon agter alles is nie. Ek was baie ongelukkig en kwaad.”
Die aanlyn profiel bly egter aktief en bly groei.
Loubser sê haar kind is onskuldig en is glad nie op enige sosialemediaplatforms nie. Sy bring dit deur die bank onder die aandag van almal dat haar seun glad nie die een is wat die profiele geskep het of die plasings maak nie.
“Hy is wel op WhatsApp, waar hy net met die familie kommunikeer. Ek was verplig om my seun vir sy veiligheid uit die skool te haal. Stories het die ronde gedoen dat dié wat hom kwaad wil aandoen, hom by die skool inwag. Hy kom nie meer tussen kinders nie – dis net kerk toe en huis toe. Dit het sy lewe verander.”
Esmarelda Mckay, wat ook ‘n slagoffer van vals Facebook-profiele is, sê dit voel skendend en is baie pynlik. Mckay se foto’s is van haar regte Facebook-profiel geneem en in vals profiele met ander name gebruik.
“Daardie foto’s is deel van my lewe en my identiteit, en om te sien hoe vreemdelinge dit gebruik om voor te gee dat hulle ek is, is diep ontstellend. Dit gaan nie net oor die foto’s nie – dit gaan oor my naam, my integriteit en my gemoedsrus wat uitgebuit word.”
Wat dit vir Mckay nog erger maak, is dat sy geen hulp by die polisie kon kry nie.
“Jy voel so magteloos. Ek hoop net deur uit te praat, sal iemand anders versigtiger wees en dat sosialemediaplatforms sterker sal begin optree teen identiteitsdiefstal en aanlyn bedrog.”




