Al die geld, die kasregister en hope vroueklere.
Dit is maar sommige van die goed wat Sondag 15 Mei tydens ’n inbraak by Weskus Helpers se liefdadigheidswinkel in Vredenburg gesteel is.
“Dis nog ’n groot terugslag vir Weskus Helpers, wat die afgelope paar maande swaar tye beleef,” sê Jenny Moors, stigter en bestuurder van dié liefdadigheidsorganisasie.
Weslander het vroeër vanjaar berig oor die afname in skenkings en verkope by Weskus Helpers weens verskeie omstandighede wat daartoe gelei het dat die organisasie se huurgeld agterstallig geraak het.
Die gemeenskap het egter die hart oopgemaak en bokse vol skenkings na die organisasie se adres in Stephanstraat aangedra. Ook het Weskus Helpers hulp met die agterstallige huurgeld ontvang en ’n sake-onderneming van die dorp het R10 000 geskenk. Dit het gelyk ’n lig begin aan die einde van die tonnel skyn en dat die slegte seisoen besig is om te draai, maar toe kom die inbraak.
En dis nie die eerste keer nie!
Volgens Moors is die glaspaneel langs die deur in die vorige inbraak stukkend geslaan sodat die inbrekers toegang tot die gebou kon kry.
“Ons het die glas met ’n stuk hout vervang, wat stewig in die gat vasgesit is,” het Moors verduidelik.
Tydens die nuutste inbraak het die diewe net eenvoudig ’n gat in die hout geslaan om in te kom.
Boonop is padwerke tans in Stephanstraat aan die gang, wat mense ontmoedig om na die liefdadigheidswinkel te kom.
“Ons verkope het geweldig afgeneem,” sê Moors.
“Ons wil net almal laat weet dat Weskus Helpers steeds oop is en die gemeenskap nooi om ons te kom ondersteun.”
Volgens Moors het die winkel tans baie mooi en netjiese tweedehandse vroueklere teen R10 vir ’n toppie en R10 vir ’n broek. Daar is ook mansklere teen R10 per artikel.
Die inkomste van die winkel word gebruik om die liefdadigheidsorganisasie se diens aan minderbevoorregte mense van Vredenburg te finansier.
Die winkel het tans ’n reusebehoefte aan komberse, beddegoed en kos.
Enigeen wat belangstel om te skenk of meer inligting verlang, kan Moors by 071 534 3890 bel. . Weslander het verlede week berig boewe het op 15 Mei by Weskusnessie ingebreek. Die polisie het per abuis die inligting deurgegee as Weskusnessie in plaas van Weskus Helpers. Die berig het dus in werklikheid na die inbraak by Weskus Helpers verwys. Daar was nie ’n inbraak by Weskusnessie nie.