Inwoners van Vredenburg, St. Helenabaai en Velddrif sou Saterdag (31 Augustus) ’n gebrul deur hul dorpe se strate gehoor het, want dit was weer tyd vir die Meeulanders-motorfietsklub se jaarlikse Dart Run, waaraan 115 motorfietsryers deelgeneem het.
By elke punt van die sirkelroete, wat by Juffroushoogte begin en eindig het, moes deelnemers op verskillende maniere probeer om die veerpyltjiebord raak te gooi – hetsy op een been of koponderstebo of selfs terwyl die bord beweeg. Die roete het ook die St. Helenabaai-hotel, die Laaiplek-hotel en Kleine Hopefield (Plaasmol) ingesluit.
Murray Harris van die Meeulanders het gesê die opkoms was baie groter as die vorige jaar, met byna al die plaaslike motorfietsklubs wat deelgeneem het. Daar was ook deelnemers van so ver as Redelinghuys, Porterville, Melkbosstrand, Dwarskersbos en Kaapstad.
“Die plaaslike klubs en motorfietsryers wat nie klublede is nie, het regtig by hul woord gehou en plaaslik ondersteun.” Die helfte van die opbrengste vir die dag gaan aan die Biker Church op Vredenburg se welstandsfonds.
Die wenner van die dag wat die hoogste punte gegooi het, was Metjie Visser van die Meeulanders.
Die dag se gelukstrekkings en pryse vir wenners is moontlik gemaak deur die genoemde hotelle en die Hartsplek-gastehuis, Bekker-slaghuis en Boesmanland Plaaskombuis.