Laerskoolleerders moet meer speeltyd ná skool gegun word en nie nog met ekstra skoolwerk opgesaal word nie.
Dalk stem jy saam, dalk nie, maar die kwessie van huiswerk doen ná skool bly maar ’n teer puntjie vir party van ons.
Party kinders kan bloot nie byhou nie en voel oorweldig en gestres, om nie van die ouers te praat nie – hoe dikwels moet huiswerk nie tussen bad- en slaaptyd ingepas word nie?
Skooltake en mondelinge is veral ’n probleem omdat baie ouers voel dat appels nie altyd met appels vergelyk kan word nie. Gesels maar gerus met van die ouers en jy kom gou agter dat van die take en mondelinge inderdaad die werk van ma of pa of selfs ’n “professionele” persoon is.
In ’n 2016-artikel op Solidariteit se webtuiste sê ’n onderwyseres van Bloemfontein dat ouers wat kla oor hul kinders se werklading nie die Suid-Afrikaanse skoolstelsel verstaan nie. Hulle het groot klasse en die werk wat in een jaar gedek moet word, is baie.
“Indien kinders nie by die huis gaan hersien nie, gaan hulle eenvoudig nie die mas opkom nie.”
Sy glo ook hoe vroeër kinders begin leer en huiswerk doen, hoe beter die kans dat die kind sukses in ’n akademiese loopbaan sal behaal.
In dieselfde artikel beveel ’n kenner aan dat kinders tussen 6 en 10 jaar nie huiswerk gegee moet word wat langer as ’n uur sal neem om te voltooi nie en voorsiening moet gemaak word vir rusperiodes ná elke 20 minute se huiswerk doen.
Huiswerk moet bestaan uit hersiening van die dag se leerwerk.
“Speel is van kardinale belang vir kleintjies. In hul speeltyd leer hulle van hulself, hul wêreld, hul verbeelding . . . hoe dinge werk.”
Die ouer se rol
Shanda Luyt skryf in ’n artikel op Vrouekeur Digitaal ouers moet hul kinders ondersteun wanneer dit by huiswerk, take en toetse kom, maar moet gewis nie die huiswerk oorneem en dit namens die kind doen nie.
Kinders moet geleer word om verantwoordelikheid vir hul eie leerwerk te aanvaar en dit is dus belangriker om die kind met die regte studievaardighede toe te rus.
Vaardighede sluit die volgende in:
. Om opsommings van die werk te doen, met ander woorde kinders moet leer om te onderskei tussen belangrike en relevante inligting en dit wat nie belangrik is nie.
. Om self ’n mondeling te skryf, dus kan jy raad en riglyne gee, maar die kind moet eers self skryf waarna ouers kan help om aanpassings te doen indien nodig.
. Om skooltake self te doen. Ouers kan help deur inligting te soek as die kind nog in die laerskool is, maar hoërskoolleerders moet self regkom. Neem gerus die kind biblioteek toe.
Die werk is te moeilik
Vind eers uit wat is te moeilik. . Verstaan jou kind nie die opdrag nie, het hy te min inligting of is hy sommer net nie lus nie?
. Wys hom hoe om die vraag met kleurpenne op te deel en hoe om sleutelwoorde te soek.
. Help ook jou kind met tydbeplanning sodat hy die olifant happie vir happie kan eet.
Doel van huiswerk
In die Vrouekeur-artikel sê Alet Marais, ’n opvoedkundige konsultant, die doel van huiswerk is om “vaslegging te doen van dit wat in die skool geleer is . . . en vir toetse en eksamens moet leerders vooraf ’n afbakening gegee word sodat hulle presies kan weet wat om te leer”.
Wat wel ’n goeie idee is, is om leerders uit te daag om die dag se klasonderwerp te gaan navors en te kyk of hulle nog inligting bymekaar kan maak en hulle dan die volgende dag ’n beurt gee om in die klas te vertel wat hulle uitgevind het.
Maak ook seker dat jou kind nie spesiale leerbehoeftes het nie, veral as jy merk dat hy langer as wat nodig is aan huiswerk bestee. As jy seker is jou kind sit nie net en droom of is bloot net lui nie, is dit raadsaam om professionele hulp in te roep.
Volgens een van die kenners in die artikel is onderwysers nie altyd bewus van leerders se omstandighede nie, soos dat sommige leerders eenvoudig nie tyd het om soveel huiswerk baas te raak nie omdat hulle die hoofversorgers van hul huishoudings is.
Party onderwysers glo ook kom wat wil, dis die leerder se verantwoordelikheid om die werk gedoen te kry, ongeag sy omstandighede.
’n A-gemiddelde is nie die alfa en die omega nie
Dit is so dat ons die beste vir ons kinders wil hê, maar dit gaan oor soveel meer as net ’n A-gemiddelde. Leer jou kind vaardighede wat hom sal toerus om in die “wrede” wêreld aan te pas en in te pas.
Langtermynvaardighede, soos emosionele aanpasbaarheid om onder meer met ander mense oor die weg te kom en stresvolle situasies te hanteer, is uiteindelik heelwat meer werd.
“Goeie punte is allermins ’n versekering op sukses in die lewe.”
Breinkaarte
Ongeag jou kind se leerstyl, bly breinkaarte een van die beste maniere om opsommings of notas te maak.
’n Breinkaart (ook bekend as die spinnekop-en-web-metode) is ’n diagram wat gebruik word om woorde en idees aan ’n sleutelwoord oor ’n kernbegrip of idee te verbind, aldus Wikipedia.
Dit word gebruik:
. As studiehulpmiddel en vir hersiening.
. Om ’n visuele oorsig van leermateriaal te gee.
. Om idees te visualiseer en te struktureer.
. Vir probleemoplossing en besluitneming.
. Om beter te onthou.
. Geplaas met die vergunning van Afrikaans.com. Besoek gerus hierdie webtuiste vir meer insiggewende en lekkerleesberigte.