HS Weston kry nuwe sentrum

“ ’n Goeie wetenskaponderwyser in ’n gunstige omgewing is ’n stap in die regte rigting.”.


“ ’n Goeie wetenskaponderwyser in ’n gunstige omgewing is ’n stap in die regte rigting.”

Só het professor Shaheed Hartley gesê met verwysing na die nuwe wetenskapsentrum wat Donderdag 19 Oktober aan die Hoërskool Weston op Vredenburg oorhandig is.

Hartley is ’n direkteur van die Universiteit van die Wes-Kaap se wetenskapleersentrum vir Afrika.

Dit was ’n groot en opwindende oomblik vir die skoolhoof, Alvin Vraagom, die onderwysers en leerders toe Weston se langverwagte wetenskapsentrum verlede week amptelik geopen is. Die oorhandiging is deur die onderwysdepartement, professor José Frantz, die adjunk-visekanselier vir navorsing en innovering aan die universiteit en Jannie Isaacs van die niewinsgewende organisasie Garden Cities se Archway Foundation behartig. Die Archway Foundation help skole in benadeelde woonbuurte met geriewe soos skoolsale.

Negentien van dié wetenskapsentrums is verlede week in die Wes-Kaap geopen, waaronder dié van die Hoërskool Weston.

Sedert 2011 is 57 van dié noodsaaklike geriewe deur die universiteit en sy vennote in die Wes-Kaap opgerig.

Volgens Hartley voldoen Wes-Kaapse leerders se wetenskappunte nog geensins aan die internasionale maatstaf nie. Die wetenskapsentrums bied leerders ’n gunstige omgewing met die regte hulpmiddels. Passievolle onderwysers is nodig om leerders opgewonde oor wetenskap te maak.

“Ons moet begin met ondersteunende onderwysers wat die selfvertroue het om wetenskap met ’n gevorderde vlak begrip, kennis en vaardighede aan te bied,” sê Hartley.

You need to be Logged In to leave a comment.