Van die strate van Vredenburg tot die groot ligas, het Cheswill Jooste (19) diep in baie se harte geklim.
Rugby was al van kleins af ‘n deel van dié kranige speler se lewe. Waar hy met vriende in die straat gespeel het, het Jooste besef hy het ‘n passie vir die sport, ‘n passie wat al hoe meer gegroei het soos hy ouer geword het.
“My rugbyloopbaan het by Laerskool Panorama begin, toe het ek oorgegaan na Welkom, en daarna Hoërskool Noordheuwel. Ek het deur al die ouderdoms-rankings gewerk en elke kans gebruik om myself te verbeter. Ek het vir verskeie provinsiale spanne gespeel en is toe raakgesien deur die Bulls. Vandag is ek trots om deel te wees van die Vodacom Bulls en ek sien elke wedstryd as ‘n geleentheid om te groei,” vertel Jooste.
Met harde werk en deursettingsvermoë het Jooste se toewyding aan die sport deure begin oopmaak.
Hy het onlangs die geleentheid gehad om aan die Springbokke se oefenkamp deel te neem waar hy met die beste van die beste skouers kon skuur.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Ek onthou nog die oomblik toe ek die oproep gekry het. Ek het eers gedink ek droom. Om tussen van die beste spelers in die wêreld te wees het my soveel geleer oor dissipline, intensiteit en die klein goedjies wat ‘n groot verskil maak. Ek gebruik daardie lesse elke dag, op en van die veld af. Ek kyk baie op na Cheslin Kolbe. Hy is nie die grootste ou op die veld nie, maar hy speel met ‘n groot hart. Sy werks-etiek, nederigheid en die manier waarop hy mense inspireer, is iets waarna ek streef. Ek leer baie deur net na hom te kyk en hoe hy homself dra.”
Geleenthede het egter nie daar gestop nie. Jooste het sy debuut vir die Vodacom Bulls op Saterdag 27 September gemaak. Hulle het ‘n 54-40-oorwinning teen die Ospreys behaal.
“Dit was soos ‘n droom wat waar geword het. Om my debuut te maak én twee drieë te druk in dieselfde wedstryd, en nog bo-op dit te help dat die span gewen het, is iets wat ek altyd sal onthou. Ek was baie dankbaar en nederig, maar ook opgewonde vir wat voorlê.”
Jooste meen sy grootste onder-
steuners is die Here en sy ouma. Hy voeg by dat sy grootwordjare in Vredenburg hom geleer het van harde werk, nederigheid en om nooit op te gee nie. “Die ondersteuning van my mense daar het my dryfkrag gegee. Ek dra hulle trots elke keer as ek die veld betree. My grootste droom is om eendag die Springbok-trui aan te trek en vir my land uit te draf, as dit die Here se wil is.”
Hy moedig jongmense aan om
nooit op te hou droom nie. “Werk hard, glo in jouself, en hou jou oë op die Here. Jy hoef nie uit ‘n groot dorp te kom om groot dinge te bereik nie. Moenie bang wees as jy val nie, dit is deel van die reis. Ek is net ‘n seun van Vredenburg, en as ek dit kan doen, kan jy ook.”


