As jy snags ‘n ekstra kombers nadertrek of soggens jou warm koffie met koue hande vashou, onthou – jou troeteldier voel dieselfde koue.

Honde word gouer siek in koue winterweer. 
Foto's: CARE St Helenabaai
Honde word gouer siek in koue winterweer. Foto’s: CARE St Helenabaai

Diere – veral honde en katte – ly dikwels in stilte in die winter as hulle nie behoorlik teen wind, reën en lae temperature beskerm word nie. Anders as ons, kan hulle nie vir hulself sê: “Dis te koud hier, laat ek ‘n ander kamer gaan soek” of “Ek gaan ‘n trui aantrek” nie.

Baie mense glo steeds “diere hoort mos buite ” en ” ‘n hond het mos ‘n pels”, maar dit is nie voldoende nie. Honde en katte kry ook koud, kan siek word van koue, en sukkel om liggaamshitte te behou – veral as hulle oud of klein van postuur is, gesondheidsprobleme ervaar of kort hare het. Diere met swak voeding is selfs meer vatbaar, want hulle het nie genoeg energie om hul liggaamstemperatuur op peil te hou nie.

Winter in die Weskus bring meer as net koue – dit bring ook nat weer en wind. Diere wat buite slaap, is dus uitgelewer aan toestande soos longontsteking, pynlike gewrigte en kry voortdurende koud, wat hul gesondheid ernstig kan benadeel en tot die dood kan lei.

Hier is praktiese, bekostigbare maniere hoe jy jou troeteldier kan help om hierdie winter warm te bly:

• Behoorlike skuiling

‘n Sinkhokkie sonder bedekking is nie genoeg nie. Jou dier het ‘n droë, winddigte en verhoogde skuiling nodig, met ‘n dak wat reën afkeer en mure wat nie die koue deurlaat nie. Sit ‘n kombers, kussing, opgevoude karton of selfs strooi binne-in om van onder af te isoleer. Maak seker die ingang wys weg van die wind en reën, en oorweeg ‘n lap of plastiekflap oor die ingang as ekstra beskerming.

• Droé en warm slaapgebied

As jou hond of kat buite slaap, kyk daagliks of hul bed droog is. ‘n Nat kombers help niks teen die koue nie – dit trek eerder hitte uit die liggaam. Maak dit ‘n gewoonte om kombersies of slaapplekke in die son te laat droog word, of ruil dit met ‘n droë een. As jy kan, gebruik dik materiaal of ‘n matras as basis – dit isoleer beter teen koue van onder af.

• Bring hulle snags binne toe.

As dit moontlik is, laat jou hond of kat snags binne slaap – selfs net in ‘n gang, waskamer of kombuis. Jy hoef nie ‘n bank of bed af te staan nie. Selfs ‘n kartonboks met komberse in jou motorhuis is beter as buite in die wind.• Maak seker hulle het genoeg kos en skoon water.

Diere gebruik meer energie om warm te bly. Gee dus genoeg gebalanseerde kos – verkieslik twee keer per dag – en maak seker hulle het altyd toegang tot water.

• Sorg veral vir ou, siek of klein diere.

Ou diere met stywe gewrigte, dun pelse of kroniese toestande kry makliker seer in koue weer. Gee hulle ekstra bedekking, laat hulle nader aan die huis bly en raadpleeg ‘n veearts as jy agterkom hulle bewe, sukkel om op te staan of slaap meer.

• Kyk uit vir verlore of gestrande diere.

Soms dwaal troeteldiere weg in koue weer op soek na warmte. As jy ‘n dier sien wat alleen en koud lyk, probeer hulp kry. Jy kan ‘n plaaslike dieregroep, die dierebeskermingsvereniging of ‘n WhatsApp-groep kontak. Baie diere word in die winter deur goedhartige mense gered – wees daardie mens.

• Wat kan jy nou doen?

Slaap jou diere vanaand warm, droog en uit die wind?

Het hulle iets sags waarop hulle kan lê?

Kan hulle dalk na binne gebring word, al is dit net tydelik?

Is hul waterbak vol en skoon?

Troeteldiere is weerloos. Dit is ons plig om hulle warm en veilig te hou – nie ‘n groot opoffering nie; net ‘n bietjie aandag, deernis en gereelde sorg.

In ruil daarvoor kry ons onbaatsugtige liefde, lojaliteit en ‘n stert wat van dankbaarheid waai.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025