Vir ’n nuwe hoofstuk om te begin, moet ’n ander een eers afgesluit word.
Só het die tyd ook aangebreek vir 2024 se matriekgroep om hul skoolloopbaan af te sluit en die grootmenswêreld te betree – ’n mylpaal waarna talle hul hele hoërskoolloopbaan lank al uitsien.
Maar voordat dit kan gebeur, lê een groot takie nog voor – die matriekeindeksamen. Altesaam 727 121 voltydse matriekleerders het Maandag 21 Oktober vir hul eerste vraestel aangemeld. Hoewel die einde in sig is, is dit nou die tyd om alles in te sit.
Dié wat deur die jaar met hul leerwerk op datum gebly het, kan die eindeksamen dalk minder stresvol as die res ervaar en dit teen ’n rustiger pas aanpak. Vir ander kan hierdie tydperk oorweldigend wees, veral as hulle ’n spesifieke doelwit in die oog het.
Wat ook al die uitslag is – hou kop en onthou dat hierdie net ’n hoofstuk in die res van jou lewe is. As jy nie die gewenste uitslag behaal nie, is daar nog ’n kans. Moenie toelaat dat een hoofstuk die res van jou lewe definieer nie. Een ding wat die grootmenswêreld ’n mens vinnig leer, is dat die lewe onvoorspelbaar is en die planne en doelwitte wat jy vir jouself stel, nie altyd uitwerk soos die vooruitsig wat jy gehad het nie. Die belangrikste is om te volhard, al slaan die lewe jou soms plat. Staan op en probeer weer. Die lewe ná matriek is meer as net ’n punt op jou rapportkaart en al kan dit jou dalk langer vat om by daardie spesifieke doelwit uit te kom, is daar altyd nog ’n geleentheid – mits jou gesindheid reg is en jy doelgerig bly. Die hoop beskaam nooit.
Alle voorspoed aan die matriekklas van 2024. Mag hierdie hoofstuk die weg baan vir ’n rooskleurige toekoms.