Die strand, lekker kos en vele kuiers is hier, maar finansiële ghoeroes waarsku dat die feestyd eintlik die gevaarlikste tyd vir jou begroting is.

Die grootste slaggate is sekerlik uitstappies en kuiers, want wie kan ’n braaivuur by die swembad weerstaan?

Wees egter slim met dié geleenthede. Finansiële ghoeroes meen almal kan doen met ’n besparing, so maak kuiers potlucks –geleenthede waar almal iets bydra en die finansiële druk nie net op die gasheer is nie.

Bederfies vir die feestyd kan soos ’n verpligting voel, maar wees slim – hierdie uitgawe moet reeds in jou begroting wees. Indien nie, sal jy iets vandeesmaand moet prysgee.

Die ghoeroes waarsku ook teen daardie 13de tjek of bonus, want baie van ons gee dié geld uit vóór dit in die bank beland. Daar moet ’n plan wees vir die geld, of dit geskenke koop is of ekstra brandstof vir rondry. Laat elke sent tel – dit is steeds nie te laat om ’n vakansie­begroting op te stel nie!

Dan, moenie vergeet alles in die winkels is só uiteen­gesit om verkope aan te moedig nie. Moenie val vir die slaggate nie, al trek bemarkers hoe hard aan die hartsnare. Bly binne jou perke.

Indien jy wel ’n vakansie-begroting het, is hier ’n paar wenke vir jou geldsake vir volgende jaar:. Betaal jouself eerste – moenie wag tot die einde van die maand om te spaar nie. Kry ’n outomatiese aftrekking wat jou spaargeld vat voor jy die geleentheid het om dit uit te gee. . Stel ’n delgingsfonds (sinking fund) op. Sit maandeliks R50 of meer weg vir uitgawes soos geskenke of kort vakansies of skool-benodigdhede. Jy weet hierdie uitgawes kom een of twee keer per jaar, so moenie toelaat dat dit jou maande­likse begroting omverwerp nie.. Elke geleentheid kort sy eie begroting. Wil jy ’n partytjie hou of ’n trippie langs die kus neem? Stel eers ’n begro­ting op, want klein uitgawes hier en daar raak maklik honderde rande saam.

You need to be Logged In to leave a comment.