Weskussers se menings verskil oor die diens en behandeling by Vredenburg- provinsiale hospitaal.
Dit volg ná die berig “My vrou verswak” op 23 Oktober in Weslander.
Volgens talle Weskussers het hulle goeie én slegte ervarings by die hospitaal gehad. Volgens een plasing op Weslander se Facebookblad het een leser gedeel sy is al vier keer in die Vredenburg- provinsiale hospitaal opgeneem en het baie goeie behandeling ontvang.
“Ek het een keer ook onverwags daar opgedaag, maar is onmiddellik gehelp, en dit was nie asof ek die dokter of verpleegsters geken het of vriende met hulle was nie.”
Nog ‘n leser meen sy het sover baie goeie diens daar ontvang en dat die hospitaal skoon en nietjies is met vriendelike personeel.
‘n Ander leser het gedeel dat longkanker by haar ma gediagnoseer is en dat die dokters niks vir haar kon doen nie, maar dit was toe al die tyd longontsteking.
“Ons familie het begin regmaak dat sy gaan sterf weens kanker en toe was dit nooit kanker nie. Ons was weer by ‘n onkoloog by Groote Schuur-hospitaal wat sê daar is geen tekens van kanker in haar longe nie.”
Ander deel weer dieselfde sentiment dat diens by ander instansies ook nie altyd bevredigend is nie – nie net by hospitale nie.
‘n Inwoner van Vredenburg het met Weslander gedeel sy verstaan dat alle hospitale onder druk is, veral Vredenburg se povinsiale hospitaal, wat die enigste staatshospitaal in die Weskus is. Sy meen egter pasiënte moet te alle tye regverdig, respekvol en met die nodige aandag hanteer word.
Leensie Lötter, ‘n woordvoeder vir die provinsiale departement van gesondheid, sê die hospitaalbestuur verstaan die frustrasie van pasiënte en hul geliefdes.
“Lede van die publiek word aangemoedig om enige klagtes deur die amptelike kanale te deel.”
Klagtes kan aangemeld word by 0860 142 142, per e-pos na service@westerncape.gov.za, die klagtes- en komplimenteboks of by die bestuurder aan diens vir onmiddellike terugvoer.





