Hopefielder se eerste boek uit!

Die Hopefieldse skrywer Luandi Brand (25) het haar eerste boek genaamd My Nommer is 4271 in September vanjaar vrygestel.


Die Hopefieldse skrywer Luandi Brand (25) het haar eerste boek genaamdMy Nommer is 4271 in September vanjaar vrygestel.

Die boek is in die wetenskapfiksie- genre en speel in Suid-Afrika af. Soos Brand verduidelik is dit ’n “fast paced”-boek vol aksie en die eerste van ’n duologie.

Die hoofkarakter, 4271, is ’n soldaat wat die land se mense probeer veilig hou, maar begin raaksien hoe die mag nie regtig dieselfde wil doen nie. Hulle weier hulp van ander lande af en nou is Suid-Afrika die enigste land met ’n verskriklike virus wat meer en meer muteer aangesien entstowwe onsuksesvol is.

Soldaat 4271 en ’n hond genaamd Nash, draai teen die mag en vorm deel van ’n rebellie. Die rebellie het nog hoop vir Suid-Afrika en probeer alles doen wat hulle kan om die oorlewendes te red, maar terselfdertyd moet hulle nog teen die mag ook baklei.

“Die storie is ideaal vir ‘zombie’-liefhebbers wat mal is oor skop, skiet en dood. ’n Interessante feit is dat die geslag nêrens in die boek genoem word nie. Die leser kan self besluit hoe die karakter met hulle praat,” meen Brand.

Die inspirasie vir die boek het gekom nadat Brand besef het hoe vinnig mense gifstowwe kan inneem in die samelewing en dit het haar omtrent ses maande geneem om te voltooi. Die boek, wat deur Ns. Skrywershuis gepubliseer is, is vir Brand ’n droom wat waar geword het.

Met die geboorte van haar dogtertjie (nou 17 maande) wat laryngomalacia het – ’n aangebore versagting van die weefsels van die stemkas bokant die stembande wat die mees algemene oorsaak van lawaaierige asemhaling in babas is, en die finansiële druk van hospitaalbesoeke –het sy nie opgegee om te werk aan dit wat sy wou bereik nie.

“Dit het duisende rande gekos en ek moes omtrent al my persoonlike boeke verkoop. Ek het skenkings ook ontvang en dit alles het my uiteindelik gekry waar ek moet wees. Ek het ’n halwe jaar lank hard gewerk, baie gebid en baie gehuil om uiteindelik my boek in my hande te kan hou.

“Dit het altesaam vier jaar geneem en ek glo steeds my stryd is nog nie verby nie. My droom is om Afrikaanse boeke ’n nuwe lewe te gee, en nou kan ek.”

Haar ma, Salomé Brand, sê die skryfproses was ’n lang reis vir haar dogter en met al die uitdagings wat sy deurgemaak het, bars albei ouers van trots.

Brand sien daarna uit om nog boeke te skryf en bly in haar vrye tyd kreatief besig.

’n Getekende kopie van My Nommer is 4271 kan deur Brand bestel word per e-pos by luandibrand@gmail.com of kontak haar by 084 777 4490. Die boek kan ook op Ns. Skrywershuis se webtuiste bestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.