Hopefielder na Doebai

Die geleentheid om in Doebai te gaan rugby speel, is ’n seëning wat op die pad van El-dean Marthinus gekom het.


Die geleentheid om in Doebai te gaan rugby speel, is ’n seëning wat op die pad van El-dean Marthinus gekom het.

Dié 15-jarige rugbyspeler van die Hoërskool Hopefield is gekies om lid te wees van ’n span wat vanjaar aan die Beal Invitational Rugby Tour in Doebai sal deelneem. Om dit ’n werklikheid te maak, het El-dean egter nog R18 400 teen die einde van Oktober nodig, wat sy vlugte, verblyf, vervoer, twee wedstryde, ekskursies, etes en meer sal dek.

Volgens El-dean was dit blydskap en dankbaarheid wat hom oorvloei het toe hy die nuus hoor. “Hierdie is ’n geleentheid om my eie rugby-vaardig­hede te verbeter en terug te kom en dit wat ek in Doebai ondervind het, met my spanmaats te deel,” vertel hy.

Rugby is ’n passie vir dié jongman, wat hy as sy “veilige ruimte” beskou waar hy dit kan geniet en goeie verhoudings met spanmaats opbou. Dit was op ’n jong ouderdom as kleuter waar El-dean se liefde vir ’n bal en skop begin ontwikkel het, wat daartoe gelei het dat hy in gr. 1 reeds begin rugby speel het.

Sy ouers, Sheridene Jacobs en Elton Marthinus, is baie trots op hul seun.

“Hy is gekies deur professionele selekteerders vir die spel wat hy in sy posisie gelewer het. Hierdie toer is ’n eens-in-’n-leeftyd-geleentheid vir El-dean om sy rugbyvaardighede te wys en hom blootstelling te gee – nie net aan internasionale reis nie, maar ook om teen plaaslike spanne mee te ding en Doebai se gasvryheid te ervaar,” meen sy ouers.

Sy afrigter, Nelius van Tonder, sê ook El-dean is ’n veelsydige en aanvallende speler – een wat baie toegewyd en gemotiveerd is.

Sy ma verduidelik dat hulle ’n betalingskedule ontvang het waarvan ’n maandelikse deposito van R10 000 vanaf Julie betaalbaar is.

“Ons het reeds twee pogings vir geldinsameling aangepak en kon met behulp daarvan sowel as ’n paar skenkings drie deposito’s betaal.

“Ons moet nou skouer aan die wiel sit sodat ons teen einde Oktober die balans kan vereffen. Ons wil elke individu en klein onderneming bedank asook kettingwinkels – daar is so baie om te noem.”. Om El-dean se droom ’n werklikheid te help maak en ’n bydrae te gee, kontak Sheridene by 065 337 4655 of Elton by 073 393 4681 .

You need to be Logged In to leave a comment.