Suid-Afrika en Hopefield is in Ierland deur HSH se rugbyspan verteenwoordig.


Die Hoërskool Hopefield het ’n baie sterk toerkultuur wat Donderdag 14 Maart voortgesit is toe 39 seuns en vyf volwassenes Ierland toe is.

Vir dié groep was dit ’n ongelooflike toer.

“Ons het lekker gevlieg; die Dubai-ervaring geniet. Ons verblyf was topklas en Ierse ontbyte sal vir ewig in ons geheue vasgebrand wees – die Iere het ons op die hande gedra en die seuns het topklas-rugby gespeel,” vertel Anneke Basson.

Die groep sê die toer het op twee gebiede uitgestaan. Een was die St. Patrick’s Day-feesvieringe in ’n klein Ierse dorpie, Carrick-on-Suir, waar die span sommer die parade gelei het.

Dit was ’n ervaring wat nie een van die seuns gou sal vergeet nie.

Die kersie op die koek was egter toe die span as die beste groep op die parade aangewys is en ’n trofee gewen het. Hopefield sal dié titel aanstaande jaar moet gaan verdedig.

Dinsdag 19 Maart sal vir altyd in die annale van Hoërskool Hopefield aangeteken word as “Munster-dag”.

Hierdie seuns van ’n klein skooltjie en ’n nog kleiner dorpie het Young Munster, een van die topklubs in Ierland, geklop – dít nadat elke Ier en sy hond van die span se aankoms in Dublin ’n groot pak slae voorspel het.

Die een opmerking van ’n Ierse ondersteuner by hierdie wedstryd sal die groep altyd bybly: “They just keep coming!

“Dit was tipiese Hopefield-guts in lorrievragte vol wat gemaak het dat ons daardie wedstryd kon wen en was dit nie lekker om ná die wedstryd in ’n klomp suur Ierse gesigte vas te kyk nie!”

Uitslae:

Die o.19A-span se tellings was as volg:

Carrick-on-Suir – Wen 51-0

Young Munster – Wen 29-7

Cill Dara – Wen 45-3

Die Barbarians-span (gemengde o.16 en o.18 HSH-spelers) se wedstrydtellings:

Carrick-on-Suir – Verloor 26-5

Young Munster – Verloor 26-5

Cill Dara – Wen 20-5.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025