Hopefield breëbors oor nuwe embleem

Hoërskool Hopefield het Vrydagaand hul splinternuwe, byderwetse embleem by ’n skemerkelkiegeleentheid in die skoolsaal bekendgestel.


Hoërskool Hopefield het Vrydagaand hul splinternuwe, byderwetse embleem by ’n skemerkelkiegeleentheid in die skoolsaal bekendgestel.

Daarna het ’n groep leerders die skool se nuut ontwerpte sportdrag, met die kraakvars steenbokkie-embleem op die bors, in die saal aan die gaste gemodelleer.

Plaaslike sake-ondernemings het die skool se nuwe sportdrag vir die onderskeie sportkodes moontlik gemaak en die borgskap beloop tot sowat R225 000.

Hoërskool Hopefield is vanjaar 162 jaar oud en is een van die oudste skole in die land. Die hoof, Wehan Fourie, die beheerliggaam en ouers is besonder trots op die skool se akademiese- en sportprestasies en wil voortbou op hul sukses.

Ongelukkig is daar in die afgelope vier jaar ’n finansiële verlies van R4,4 miljoen gely omdat die skool heelwat minderbevoorregte leerders akkommodeer wie se ouers van die betaling van skoolgeld vrygestel is.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) vergoed die skool vir hierdie verliese, maar die bydrae wat jaarliks vanaf die WKOD ontvang word, is net ’n spoegie in die yslike leë emmer.

In 2016 alleen het die skool net 5,66% van die algehele verlies van R1,5 miljoen vir daardie jaar teruggekry.

Hoërskool Hopefield moes vinnig kreatief raak om self die geld te in.

In 2015 het die beheerliggaam ’n raadgewende subkomitee, genaamd Klub 160+, in die lewe geroep om te help met ’n volhoubare plan vir die toekoms.

Die bestuur en ouers het koppe bymekaargesit en besluit ’n nuwe embleem is ’n goeie manier om verhoudinge met huidige borge, nuwe borge en die gemeenskap te bou.

Die embleem wat Vrydagaand deur Fourie onthul is, is die som van amper twee jaar se entoesiastiese insette en harde werk. Die leerders het dit ook baie geniet om deel te wees van die besluitnemingsproses vir die nuwe embleem.

You need to be Logged In to leave a comment.