Inwoners van Hopefield het hul kommer uitgespreek oor die haglike toestande waarin ’n trop honde hulself bevind.
Die 24 honde waarvan vyf net sewe weke oud is en sewe omtrent twee weke oud is word tans aangehou in varkhokke op ’n erf in Hopefield. Wat inwoners ontstel, is die feit dat hierdie diere nie ordentlike versorging kry nie en dat hul eienaar hulle aan hul eie genade oorlaat.
Hendrik van Romburgh, ’n inwoner van die dorp het op Sondag 27 Oktober ondersoek gaan instel en was geskok oor waarop hy afgekom het. Met geen vars water, regte honde kos of skoon en gemaklike slaapplek nie, meen Van Romburgh dit is nie hoe diere behandel moet word nie en dat dit verkeerd is.
“Dit lyk soos lusern pille en dit is tans by ’n laboratorium in Stellenbosch om getoets te word sodat ons presies kan vasstel wat dit is. Ek hoop en bid ons kry binnekort ’n antwoord,” sê hy.
Ander inwoners meen die eienaar van die honde hou hulle aan vir teeldoeleindes en kom al vir ’n geruime tyd weg met die slegte behandeling van honde, ook in ander dorpe.
Nog ’n inwoner van Hopefield sê dat daar op Donderdag 3 Oktober 19 Border Collies na die eiendom gebring is. “Daardie nag kon feitlik nie een van die inwoners [in die omtrek] slaap nie, weens die aanhoudende geblaf van die honde. By inspeksie deur die omliggende inwoners die volgende dag is daar gevind dat hierdie diere almal in dieselfde area gesit is sonder sigbare kos en voldoende water, op ’n dag waar die temperatuur tot 41 grade gestyg het.”
Van Romburgh sê hy het op verskeie kere na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) uitgereik, maar sien geen aksie van hul kant nie.
Volgens Louis van Zyl van die Swartland- en Weskus DBV het hulle op verskeie klagtes gereageer en die eiendom op verskeie geleenthede besoek. “’n Magistraat sal slegs ’n lasbrief aan die DBV toestaan wanneer daar bevestigde oortredings van die Dierebeskermingswet is, na die toepaslike prosedures gevolg is, wat ook die uitreiking van waarskuwings insluit waar nodig. Op hierdie stadium is geen sodanige oortredings gevind wat ’n inspekteur in staat sou stel om ’n lasbrief te bekom nie, sê Van Zyl.
“Ons verstaan dat sommige klaers onder die indruk is dat die DBV ’n eiendom kan betree en diere kan konfiskeer. Die feit is dat volgens Suid-Afrikaanse wetgewing, word diere as eiendom beskou. Dit beteken dat die verwydering van diere vanaf private eiendom sonder eksplisiete magtiging onwettig sou wees en moontlik as diefstal beskou kan word.
“Ons monitor die situasie noukeurig met betrekking tot die welsyn van die diere, wat ons prioriteit bly, maar dit is belangrik om daarop te let dat daar tans geen gronde is vir die wettiglike verwydering van die honde met ’n lasbrief nie.”
Volgens Tereza Burger, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit is hul wetstoepassing tans besig met ’n ondersoek rakende die kwessie. “Nadat die ondersoek afgehandel is, sal ’n beslissing gemaak word,” voeg sy by.
Inwoners sê drastiese stappe moet geneem word sodat die honde na ’n plek van veiligheid geneem kan word of liefdevolle huise vind.