Rondloperhonde byt talle diere in die Weskus dood

Die klagtes oor rondloperhonde wat diere beseer en selfs doodbyt, raak al hoe meer in die Weskus.


Die klagtes oor rondloperhonde wat diere beseer en selfs doodbyt, raak al hoe meer in die Weskus.

Weslander het in Augustus berig oor rondloperhonde wat skape op ’n plaas in Dwarskersbos verskeur het.

Dit was nie lank daarna nie toe nog ’n voorval in Langebaan aangemeld is, waar drie honde – glo huishoudelike honde – Sondag 11 Augustus ’n bokkie gejag en doodgemaak het.

Volgens ’n inwoner van Langebaan is die drie honde ’n gevaar vir die wild, ander troeteldiere en selfs kinders.

“Dit is ’n bekende feit dat sodra honde gejag het, hulle dit weer sal doen. Hierdie honde is sedertdien gevang terwyl hulle ’n hoender doodgemaak het wat aan ’n inwoner behoort en is al voorheen gesien ronddwaal.

“Hulle is duidelik ’n gevaar en moet óf afgeskei óf agter veilige heinings gehou word,” sê die inwoner.

Ongekend

Nog ’n onlangse aanval op diere het Woensdag 4 September in die vroeë oggendure by Scotts Kwekery plaasgevind. Volgens die eienaar, Phillip Scott, is dit die eerste keer dat so ’n voorval by hulle in die 25 jaar van hul bestaan plaasvind.

Twee honde, wat ook glo aan iemand moet behoort, het die perseel van Scotts Kwekery binnegegaan en omtrent 13 van die diere doodgebyt – van alpakkas en konyne tot ganse.

“Dit was ’n groot skok en hartseer. Al die diere het ’n naam gehad en kinders het dit geniet om na hulle te kom kyk,” vertel Scott.

Dr. Lucinda Cowan, ’n veearts van die Langebaan-dierehospitaal, sê oor die algemeen is dit gewoonlik ’n pak honde wat diere sal aanval en doodbyt.

“Elke roofdier het sy eie styl waarin hy aanval en doodmaak. Honde is geneig om willekeurig te byt en byt aan enige plek van die liggaam wat hulle kan bykom.”

Volgens Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, sê die verordening met betrekking tot die voorkoming van openbare oorlaste en die aanhou van diere (2022) bepaal dat eienaars moet seker maak hul diere meng nie in met die vrede en stilte van ander mense nie en hulle moet beheer oor hul diere of troeteldiere uitoefen om skade aan eiendom of tuine te voorkom.

Die verordening lui ook dat eienaars moet seker maak dat hul hond nie in ’n straat of openbare plek sonder ’n leiband loop nie, tensy die munisipaliteit plekke aanwys waar die eienaar die hond mag vrylaat.

Cowan lê klem daarop dat verantwoordelike eienaarskap belangrik is om sulke voorvalle te voorkom.

You need to be Logged In to leave a comment.