Hoërskool Piketberg vier sy luisterryke geskiedenis

Hoërskool Piketberg het middel Mei sy 173ste bestaansjaar gedenk.


Hoërskool Piketberg het middel Mei sy 173ste bestaansjaar gedenk.

Die skool het 18 Mei ’n markdag gehou om hierdie groot mylpaal te vier.

Die mark, wat op die teerblad voor die skool gehou is, is deur die graad 8- en 9-leerders in ekonomiese bestuursweten­skap en die graad 10-leerders in sakestudie- en rekeningkunde aangebied.

Hoërskool Piketberg het ’n interessante geskiedenis wat van 1846 dateer – kort ná die Groot Trek en lank voor motors en vliegtuie – toe die eerste openbare skool op die dorp onder leiding van ene dr. Scholtz, ’n predikant, gestig is. Die skool is finansieel deur die staat ondersteun op voorwaarde dat onderrig in Engels moes geskied. In 1851 was die leerdergetal 35 met net een onderwyser. ’n Tweede onderwyser is in 1869 aangestel en dié twee moes in ’n stadium in een vertrek klas gee. Die eerste drie leerders het in 1883 matriek in Piketberg se openbare skool geslaag. Die Anglo Boere-oorlog (1899 tot 1902) het soos op baie ander gebiede ook ’n invloed op die skool gehad.

In 1902 moes die leerders die gebou ontruim sodat dit as ’n hospitaal kon dien en die kerk is tydelik as lokaal ingespan waar die leerders onderrig kon ontvang.

Om destyds matriek te skryf was nie maklik nie – voornemende matrikulante moes 05:00 aanmeld vir spesiale klasse ter voorbereiding van hul matriekeksamen.

Gemaklike busse vir vervoer na sport- en kultuuraktiwiteite was daar nie.

Piketberg was bekend vir sy skitterende kore, en 1909 se koorkompetisie teen Porterville is voorafgegaan deur ’n reis van twee en ’n halwe uur per verewaentjies tussen dié twee dorpe. Piketberg se koor het met die louere weggestap.

Voetbal (vandag rugby) is teen Wellington, Moorreesburg, Malmesbury en Porterville gespeel, en leerders is met waens na die buurdorpe vervoer.

Die spelers het soms langs die waens gedraf.

Matriekafskeid is in die kerksaal gehou, en van dans was daar geen sprake nie – slegs toesprake en ’n ete. Later jare is matrieks wel toegelaat om volkspele te doen.

Op hul laaste dag in matriek het die meisies wit rokke gedra en die seuns is in ’n pak klere skool toe.

Die sekondêre afdeling van die huidige skoolgebou is in 1915 geopen, terwyl die primêre afdeling in 1935 voltooi is. Dié twee afdelings (laer- en hoërskool) is in 1973 verbind toe die administratiewe blok opgerig en ingewy is.

Die skoolsaal is in 1956 in gebruik geneem, die swembad is in 1976 gebou en die eerste sportoefeninge en -wedstryde het in 1981 op Hoërskool Piketberg se eie, nuwe sportterrein plaasgevind.

Die voormalige koshuisanneks en later skoolraadskantoor is nou die gr. R-gebou.

Die Kasteel- en Leliehof-koshuise het deur die jare verskeie metamorfoses ondergaan. Koshuisgangers in hierdie twee wonderlike koshuise sou hulle dit vandag skaars kon indink dat die koshuis in 1911 net een sementbad gehad het wat slegs Woensdae vol water getap is. Die inwoners het ’n bad-rangorde gehad. Die onderwysers het die voorreg gehad om eerste te bad, gevolg deur die meisies en dan die seuns – almal in dieselfde water, want water was skaars.

Kasteel is in 1956 voltooi, en Leliehof in 1962.

Die skool het sy 150-jarige bestaan in 1996 op luisterryke wyse met ’n vlotoptog gevier en ’n monumentjie is by die hoofingang onthul.

Vandag is die onderrigtaal Afrikaans en die skool leef sy tradisie ná 173 jaar steeds met trots uit.

You need to be Logged In to leave a comment.