Waterbesparing begin tuis, of, soos in Hoërskool Porterville se geval, by die skool.
Dié skool is op die voorpunt van waterbesparingsprojekte en is spesifiek besig met ’n projek om water by die skool vir hergebruik te suiwer.
’n Watersuiweringsaanleg is ná navorsing en beplanning by die skool opgerig en water word suksesvol by die skool vir allerhande doeleindes verwerk.
Gryswater word onder meer van die laer- en hoërskool se badkamers, die sportgeriewe en die spoelwater van die swembad verkry.
Die projek vorm deel van die landbouskool se nuwe vak Landboutegnologie. Leerders kry deur dié vak die kennis en vaardighede wat relevant is vir landbou en boerdery.
Gegewe die onlangse droogte is die doel van hierdie projek om leerders die belangrikheid van die bewaring van water te leer.
“Ons moet ons ingesteldheid en benadering verander wanneer ons water gebruik en juis daarom is hierdie projek vir ons so belangrik om dit behoorlik te bestuur,” verduidelik een van die onderwysers, Cobus Louw.
“Ons wil ook graag ons waardevolle drinkwater spaar en die druk op ons omgewing verlig.”
Die gryswater word nou hergebruik vir die skool se landboudoeleindes wat die olyfboomaanplantings, weidingskampe vir die skape en groentetonnels insluit.