Die ArcelorMittal-stigting se Wetenskapsentrum in Vredenburg het weer eens sy erns met jeugontwikkeling gewys deur sy vierde jaarlikse Loopbaan-ekspo van verlede Dinsdag tot Donderdag (14 tot 16 Oktober) by die Veeldoelige Sentrum in Saldanha aan te bied.
Dit is die grootste loopbaan-ekspo aan die Weskus en het 55 uitstallers en medewerkers bymekaargebring om ‘n dinamiese platform vir loopbaanverkenning, mentorskap en leiding in vakkeuse vir leerders te bied.
Die eerste twee dae van die Ekspo is aan gr. 9-11-leerders van ses plaaslike hoërskole gewy, terwyl die laaste dag leerders van private en openbare skole sowel as die breër gemeenskap verwelkom het.
Die rotasiestruktuur van die geleent- heid het verseker dat elke leerder direk met al vyf uitstallingsektore kon skakel, wat blootstelling aan diverse loopbaanpaaie in wetenskap, ingenieurswese, sake, onderwys en tegnologie gebied het.
Xavier Lawrence, die Wetenskapsentrum se bestuurder, sê vanjaar se Loopbaan-ekspo het die krag van samewerking ten toon gestel.
“Wanneer opvoeders, bedryfsvennote en die gemeenskap agter ‘n gemeen- skaplike visie verenig, skep ons blywende geleenthede vir ons jeug om groter te droom en hul toekoms met vertroue te beplan.”
Die sukses van die geleentheid is moontlik gemaak deur die ondersteuning van vennote en medewerkers, insluitend die Saldanhabaai-munisipaliteit, die Wes-Kaapse onderwysdepartement, die Universiteit van Kaapstad, Tronox, Lerole Power, Umoya Energy, Aurora Wind Power, Aquarius Mogs, Freeport Saldanha en die Suid-Afrikaanse nasionale petroleummaatskappy.
Spesiale waardering word uitgespreek aan Amanda Lesch, die geleentheidskoördineerder, die Wetenskapsentrum se span en die uitstallers vir hulle professionaliteit en entoesiasme.
Skoolhoofde en onderwysers het die geleentheid se struktuur, organisasie en impak geprys en dit as ‘n “model van doeltreffendheid en doel” beskryf.
Die Wetenskapsentrum bly daartoe verbind om ‘n spilpunt van onderwys in wetenskap, tegnologie, ingenieurs- wese en wiskunde, vernuwing en loopbaanontwikkeling vir die jeug van die Weskus te wees.



