Waarom word sommige mense in ons samelewing as belangriker geag as ander? Waarom moet die res van die mense wat vir strafregtelike oortredings in hegtenis geneem word eers in die hof se selle wag totdat hul borgtog betaal is, voordat hulle vrygelaat word terwyl ander toegelaat word om op die beskuldigdebank te bly sit terwyl hul prokureurs hul borgtog betaal?

Maar dit is nie net in die howe waar bevoordeling van mense in sekere “klasse” duidelik is nie, dit gaan so op alle vlakke van die samelewing.

Soos die verwaandheid van mense om op parkeerplekke vir gestremdes te parkeer, “omdat hulle so voel”.

Die wetsgehoorsame inwoners wat by die munisipale verordeninge hou versus diegene, gewoonlik met geld en aansien, wat hulle eenvoudig nie daaraan steur nie en wat ooglopend daarmee wegkom.

Boeliegedrag word aanvaar en verskans as “broodnodige beleggings” en “ekonomiese inspuitings” vir die Wes­kus, maar wat ís dit anders as boeliegedrag wanneer ‘n miljoenêr met sy helikopter ‘n gebied kom bespied en aan plaaslike inwoners sê dat geen raadsbesluit hom sal stuit om ‘n ongewenste en onpraktiese ontwikkeling in ‘n natuurerfenisgebied te bou nie.

A nee a. Die land se wette geld vir almal en ‘n mens kan maar net hoop dat die plaaslike owerhede níe sal swig voor boelies wat geld rondswaai nie. Maar ongelukkig práát geld …

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 November 2025
    Weslander E-Edition – 27 November 2025

Gift this article