Hoe raak Covid jou kind?

Wat is die wesenlike sielkundige uitwerking van die Covid 19-wêreldpandemie en die nasionale inperking op die land se jongste burgers? Wat kan ouers doen om hul kinders deur hierdie moeilike tyd te help?.


Wat is die wesenlike sielkundige uitwerking van die Covid 19-wêreldpandemie en die nasionale inperking op die land se jongste burgers? Wat kan ouers doen om hul kinders deur hierdie moeilike tyd te help?

Met Tienerselfdoodvoorkomingsweek wat om die draai is en die leerders wat op 15 Februarie weer terug skool toe gaan, is die kollig in besonder weer op die jongspan se geestesgesondheid.

  • Talle ouers het aan hul kinders het verlede jaar ten spyte van die onderbroke skooljaar akademies nie sleg gevaar nie, maar baie het nie die mas emosioneel opgekom nie.

Dalene du Plessis, ’n sielkundige berader in Piketberg, Dwarskersbos en Vredenburg, het verlede jaar voorspel dat die samelewing werklik eers die ware sielkundige impak van Covid-19 op kinders sal ervaar wanneer die pandemie verder gevorder is. Sy het bevestig dat sy gewis hierdie verwagte sielkundige gevolge in jong pasiënte waarneem. Sy vra dat ouers liefs oplet na hul kinders se huidige gemoedstoestand en hulle bemagtig met die onderstaande inligting en praktiese raad. Win professionele hulp in, indien nodig.


Hier is haar professionele mening en raad aan ouers:


Kinders doen wat kinders sien

Die Covid-19-pandemie is kompleks vir ouers om te verstaan; soveel te meer vir kinders. Ouers se primêre plig is om na die welstand van hul huis en kinders om te sien. As kinders gesonde gedrag sien, demonstreer hulle gesonde gedrag. Kinders vertolk hul wêreld deur hul ouers se reaksie waar te neem. As ouers gestres en angstig is, is die kans op angstige kinders goed. Kinders kan ook oorweldig word deur aan ’n aanhoudende stroom hartseer en bangmaaknuus blootgestel te word.

Hou jou kind weg van daaglikse nuus en vermy gesprekke wat gedurig op wêreldgebeure fokus.

Kinders voel veilig as hulle weet wat om te verwag en dat daar grense is. Maak dus seker dat ’n daaglikse roetine, skedule en take gehandhaaf word. Kalmeer jou angstige gedagtes en maak kreatiewe planne. As jy kalm bly, sal jou kind ook.

Hierdie is ’n unieke geleentheid om die bande met jou kinders te verinnig en kreatief saam uit ’n nuwe uitdaging te leer. Die uitwerking van ’n ramp soos die koronavirus-pandemie (traumatiese gebeurtenis) kan langdurige, negatiewe en emosionele gevolge vir kinders hê – ’n gevoel van verlies aan die lewe en wêreld soos ons dit geken het.


Die algemene tekens van traumatiese stres by kinders en versorgers:

. Vrees en angs of paniek soos ’n vrees om alleen te wees, skeidingsangs, ’n vrees vir die dood of verlies van ouers;. Woede, frustrasie, irritasie en buierigheid;. Slaapversteuring en nagmerries;. Swak konsentrasie en geheue;. Besluiteloosheid;. Oorsensitiwiteit vir gevaar soos as iemand sou nies;. Hulpeloosheid;. Hartseer en konstante bekommernis;. Sukkel om na opdragte te luister of dit uit te voer;. Chroniese moegheid asook. Pyn en ander fisieke simptome.

Drie- tot vyfjariges: . Regressie: suig weer duim, glipse, soek weer troetelkombersie of speelding;. Is verward, maak fantasiestories op, verstaan nie wat aangaan nie;. Skuldgevoelens en selfblaam;. Angstigheid en huilerigheid met slaaptyd, word dikwels wakker;. Skeidingsangs en gevoel van algemene onveiligheid en vrees vir siek word;. Irritasie, aggressie en woede-uitbarstings.

Ses- tot agtjariges: . Hartseer en vrees dat sy alleen gaan agterbly as sy ouers verloor;. Huil kan algemeen voorkom en helend wees;. Praat oor hul vrese;. Bang dat die wêreld gaan eindig of hulle hul ouers gaan verloor; praat hier oor hoe ’n mens jouself beveilig;. Fantasie dat virus nie bestaan nie en dat alles normaal gaan wees;. Kan hiperaktief raak, onverantwoordelik of disrespekvol.

Tieners . Voel geïsoleerd en alleen, verhoogde angstigheid weens verlies aan skoolprestasie, vriende en sport- en sosiale aktiwiteite;. Chroniese moegheid en liggaamspyne mag ’n teken van opgekropte emosies wees.


Wat om te doen

. Vra jou kind hoe hy voel en hoe hy sy stres hanteer. Luister aandagtig en met empatie en help hom om sy emosies te identifiseer.. Bring tyd saam met jou kind in dieselfde kamer deur.. Moedig kontak met vriende of familie aan deur oproepe of boodskappe.. Stel feite in perspektief en verseker jy doen al die moontlike om gesond te bly en te leef.. Verduidelik dat julle saam die uitdaging aandurf en dat die simptome wat hy of sy ervaar normaal is vir ’n uitdaging soos die een waarin ons onsself bevind.. Praat deur die verhoogde stres. Onthou, as jy daardeur kan praat, kan jy daardeur kom. Ondersteuning in tye van krisis speel ’n groot rol in sinvolle hantering en verwerking.

You need to be Logged In to leave a comment.