Elke dag is kleuters nog besig om die wêreld rondom hulle te verken, asook selfs emosies wat vreemd is vir hulle en hoe hulle dit moet hanteer.
Afrikaans.com het met die vroeëkinderontwikkelingspesialis en eienaar van Oasis Club Learning, Yolandi van den Heever-Breytenbach, gesels oor wat ouers te doen staan as hul kleuter byt. Van den Heever-Breytenbach is ook die ontwikkelaar van Afrikaans.com se kleuterkurrikulum op ons splinternuwe leerhulpblad.
As jou kind byt, wys dit op iets wat fout is by die huis?
As ouer wil mens dadelik die vinger na jouself wys en die blaam vierkantig op jou eie skouers plaas. Dit is egter nie nodig nie, want glo dit of nie, dit is normaal en dikwels die kleuter se manier van kommunikeer. Nietemin, ’n mens kan dit ook nie net aanhou ignoreer nie en daarom is dit nodig om die saak reg te benader.
’n Mens hoor soveel verskillende opinies en oplossings vir hierdie probleem – na wie luister ek?
Daar is deesdae kenners vir elke ding. Dit kan nuwe (en gesoute) ouers oorweldig. Jy hoef nie altyd almal se raad in jou huis toe te pas nie. Oorweeg die volgende en besluit dan wat om te probeer, wat om gedeeltelik toe te pas en wat om liefs te ignoreer.
. Stem die raad ooreen met my eie oortuigings oor kinders grootmaak?
. Stem die raad ooreen met wat ek van my kleuter weet en wat ek weet in my huis werk?
. Wie is die persoon wat die raad gee? (Hoe lyk hul eie agtergrond en benadering tot kinders?)
Wat is moontlike oorsake van byt by kleuters en peuters?
1. Frustrasie
. Die kleuter wil kommunikeer, maar taalvaardighede is nog nie bemeester nie. Dit veroorsaak frustrasie.
. Te min lyflike aktiwiteite – veral waar verwag word dat kleuters heeldag agter boekies moet stilsit. Maak seker jou kleuter is besig genoeg!
. Skep die omgewing.
. Verandering in omstandighede – ons het dikwels soveel grasie vir volwassenes, maar vergeet dat ons kleuters en peuters ook geregtig is op ’n afdag.
2. Verkenning van nuwe dinge – soos speelgoed.
3. Tande kry. Dit is fisiologiese ontwikkeling en het niks met emosionele oorsake uit te waai nie.
4. Opgewondenheid.
5. Sensoriese oorstimulasie. Te veel lawaai, te veel skermtyd, te lank in die kar, draai te lank op die telefoon (mamma). Onthou dat temporaliteit (begrip van wêreld) nog nie ontwikkel is nie.
Moontlike strategieë wat toegepas kan word
. Trek die kleuter se aandag af.
. Probeer raaksien watter situasies die kind laat oorgaan tot byt en bestuur dit voor die tyd. Beperk die vier uur lange inkopietog totdat jou man jou kleuter kan oppas.
. Maak seker daar is voorsiening gemaak vir fisiologiese behoeftes. Bv. ’n tande-ring en pynstropie vir seer tandvleise.
. Tree ferm op wanneer so ’n insident plaasvind. Moet asseblief nie lag of iets dergeliks nie. Dis dalk die eerste maal snaaks as jou kleuter jou byt soos ’n piranha. Dis nie die 10de maal steeds snaaks nie.
. Oppas om straf uit te deel, maar aanvaar ook dat jou kleuter nie die engel Gabriël is nie. Dit is belangrik dat ouers nie slegs die beste van hul bloedjies glo en keer dat hul kinders kan groei nie.
. Werk saam met die skooltjie en juffrou. Hulle is darem in die meeste gevalle nie daarop uit om op jou tweejarige te pik nie. Wanneer die ouers en die skool in dieselfde span is, kan dit net voordelig wees vir die kind.
. Beperk aktiwiteite wat kan lei tot frustrasie – veral oormatige skermtyd. Die kleuter is gemaak om te klim, klouter en aktief deel te neem aan die wêreld. Om vasgenael voor ’n skerm te sit, is ’n onnatuurlike ding vir ons klein maats.
. Neem jou kleuter se gemoedstemming in ag en toon begrip daarvoor. Dis egter nie nodig dat jou kleuter die huis regeer nie.
. Kleuters het beperkte moraliteit en reageer nog nie uit ’n verstaan (begrip) van goed en sleg nie. Die kleuter hou egter van die beloning wat gepaard gaan met “goeie” gedrag. Moet dus nie van jou kleuter verwag om uit sy eie te weet dat byt verkeerd is nie.
. Indien geen strategie werk nie, raadpleeg ’n arbeids- of spelterapeut.