Mylpale kan groot of klein wees, maar is altyd ’n geleentheid om terug te staan en te kyk hoe ver jy gekom het.

Danksy navorsing vir dié rubriek en die paar persoonlike finansiële wenke wat ek reeds gekry het, het ek ook ’n mylpaal of twee om te vier.

My eerste mylpaal was om ’n klein noodfonds te begin – ’n moet volgens die geld-ghoeroes, aangesien jy nooit weet wanneer iets onverwags breek of jy ’n onverwagse rekening gaan kry nie.

Ek spaar nog hard om daardie kamera te koop, maar aangesien ek ’n noodfondsie het, kan ek nou meer spaar vir plesier.

Tweedens, my motorpaaiemente is by ’n punt wat ek die lig aan die einde van die tonnel kan sien!

Eers was die bedrag te groot, die skuld te veel en ek kon nie berig dat die paaiemente ooit sou ophou nie.

Nou sien ek egter as ek maandeliks net ’n paar honderd rand by my paaiement sit, ek minder as ’n jaar se paaiemente oor het.

Nie werklik ’n mylpaal nie, maar ek sien nou die geldwenke werp vrugte af.

Volgens my gunsteling-geldghoeroes is dit goed om jou suksesse te vier, maar selfs meer belangrik om jou geld-doelwitte te hersien.

Kameras en om daardie laaste klere-rekeninge af te betaal is korttermyn­doelwitte en is gewoonlik binne ’n paar maande haalbaar.

Mediumtermyndoelwitte strek gewoonlik oor een tot vyf jaar en kan elke nou en dan hersien word om te bepaal of dit werklik iets is waarna jy nog streef.

Wil jy nog steeds daardie twee weke lange roadtrip deur Suid-Afrika vat? Hoekom nie dit verander na ’n week lange oorsese trippie nie?

Langtermyndoelwitte is gewoonlik dinge soos huis koop en jou kinders universiteit toe stuur en ’n goeie aftrede.

Vier gerus jou mylpale, verantwoor­delik natuurlik, en stel sommer ’n nuwe paar om jou gemotiveer te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.