Die Oppikoppie-gastehuisies kyk uit oor die kleinhoewes op Longacres.


’n Onsmaaklike herrie het die afgelope naweek by ’n Langebaanse gastehuis uitgebreek en uitgeloop op ’n klagte van opsetlike saakbeskadiging teen ’n groep vroue van die Kaap en ’n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer teen die gastehuiseienaar.

’n Video wat die indruk skep dat Michael Rentzke, die eienaar van die Oppikoppie-gasteplaas in die Oliphantskop-natuurreservaat, rassistiese aanmerkings teenoor die vroue gemaak het en dat die vroue met “traangas” in hul gesigte gespuit is, het vinnig op sosiale media ophef gemaak.

Op die video word groot gewag gemaak daarvan dat die vroue sonder rede “uitgegooi” word.

Volgens Michael is dit geheel en al onwaar dat enige rassistiese opmerking jeens die vroue gemaak is. Hy erken wel dat iemand pepersproei in die sitkamer gespuit het in ’n laaste poging om dié groep van die perseel af te verwyder. Die videos wys ook nie dat iemand in die gesig gespuit word nie.

Die feite, volgens Michael, verskil geheel en al met dit wat sosialemedia-gebruikers dit afmaak om te wees.

Die groep van vyf vroue het plek vir die naweek bespreek. Hulle het glo Vrydagmiddag (30 Augustus) met ’n taxi tot by die Engen OneStop buite Langebaan gekom en die Rentzkes gebel om te sê dat hulle nie vervoer tot by die gastehuis het nie. Hulle het toe vir die vroue vervoer gereël, waarop hulle by een van die huise op die perseel ingeboek is.

Omstreeks tweeuur Saterdagoggend het die moeilikheid begin. ’n Paartjie met ’n jong baba was in die perseel langs die vroue wat glo baie hard lawaai gemaak het.

Natasha Rentzke, Michael se vrou, het gebel en gevra dat hulle asseblief sagter moet kuier, waarop een van die vroue glo gepleit het dat hulle haar tannie moet kom stilmaak.

Toe die rumoer nie stil raak nie, het Michael self oorgeloop om hulle te gaan stilmaak.

Met sy aankoms by die huis is hy ingenooi en aangesê om te kyk hoe sy plek lyk. “Die televisie is stukkend geslaan, daar was drank oral, die sitkamerbank het ’n sigaretbrandmerk gehad en daar was glasstukke oral.”

Hy het vir die vroue gesê hy gee hulle ’n uur om op te pak en die perseel te verlaat. Toe hulle nie wil uit nie, het hy die polisie omstreeks 03:00 ontbied.

Die polisie het aan die vroue die gastehuis se reëls gewys wat dit duidelik stel dat gaste summier verwyder sal word in die geval van onaanvaarbare gedrag. Die vroue is gevra om asseblief teen 14:00 Saterdag uit die perseel te wees.

Die polisiebeamptes het Michael ook hierop aangeraai om ’n klagte aan te meld.

Teen 14:00 was die vroue steeds in die huis. Michael het weer die polisie gebel, wat uitgekom het en die vroue tot 16:00 die middag gegee het om die plek te verlaat.

Hulle het egter steeds nie, waarop Michael weer die polisie gebel het, maar hy was dié keer onsuksesvol.

Die Rentzkes het selfs aan die vroue gesê dat hulle bereid is om R2 500 te betaal vir vervoer om hulle terug in die Kaap te kry, maar die vroue het geweier.

Michael het hierop vriende gevra om te kom help om die vroue se bagasie uit te dra. Dit is tydens dié optrede wat videos gemaak is en die situasie geëskaleer het.

Michael het later moed opgegee en die vroue het Saterdagnag oorgeslaap. Hulle is Sondagoggend om 10:00 vort.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, beweer die vroue dat die gastehuiseienaar hul eiendom beskadig en hul eer en waardigheid aangetas het.

Volgens Michael het verskeie bekommerde gastehuiseienaars hom vandeesweek gebel. “Wat maak ’n mens in so ’n situasie? Die polisie en die sekuriteitsbeamptes sê hulle kan nie die mense uitsit nie. Wie staan dan nou gastehuiseienaars by as mense hulle eiendom afbreek?”

Dat hy nou op sosiale media van rassisme beskuldig word, is vir hom bitter swaar. “Dit is feitelik eenvoudig net nie korrek nie.”

Helfrich het benadruk dat albei sake deeglik ondersoek sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.