Laaiplek-polisie se hoof van sigbare polisiëring, AO Elroy Fischer (43), het Sondagoggend tragies in ’n motorongeluk op die Velddrif-Vredenburgpad gesterf.
Volgens kapt. Tania Helfrich, plaaslike polisiewoordvoerder, is die inligting oor die ongeluk in hierdie stadium baie skraps, maar sy sê dit het om 00:05 Sondag naby die plaas Heuningklip, rigting Velddrif gebeur.
Dit blyk daar was net een voertuig in die ongeluk betrokke en daar is nie remmerke op die pad nie. Fischer was aan diens en alleen in die polisievoertuig toe die ongeluk gebeur het. Die wrak is ná sonsopkoms in die veld gesien en gerapporteer.
“Die presiese oorsaak van die ongeluk kan nog nie bepaal word nie,” aldus Helfrich.
Fischer het op 12 November 1997 by die Laaiplek-polisie as ’n reservis aangesluit. Op 1 Februarie 2000 het hy as ’n permanente lid by die polisie aangesluit en op 1 Maart 2019 is hy tot die rang van adjudant-offisier bevorder in die pos as sigbare polisiëringshoof.
“Fischer sal onthou word as ’n perfeksionis in sy loopbaan. Hy was hardwerkend en het sy pligte met trots en ywer verrig, met oë wat blink en lag as hy praat,” het Helfrich gesê.
Daar sal Donderdag 29 Oktober om 10:00 ’n gedenkdiens vir Fischer by NG kerk Laaiplek gehou word. ‘n Amptelike begrafnis sal Saterdag 31 Oktober om 10:00 by die Velddrif-rugbyveld gehou word.
Enigiemand wat die ongeluk gesien gebeur het, word vriendelik versoek om vir sers. Mzamo Mbovane by 022 703 6464 te bel.
**Begrafnisreëling aangepas (26/10/2020 – JV)