Op die pad vanuit ’n motorhuis na ’n suksesvolle meubelonderneming word waardevolle sakelesse geleer. Die manne agter Inside Out is Julie se Entrepreneurs van die Maand.
Vir Jaco Grobler (43) en André du Plessis (50) het hul paadjie saam begin toe Jaco pas ontslaan is uit dwelmrehabilitasie. Hulle was in dieselfde kerk en André wou hom ’n tweede kans gee.
Die geld was maar skraps. Om sy inkomste aan te vul, het Jaco in sy motorhuis voëlvoerders (bird feeders) en wensputte uit palette gemaak waarmee hy Saterdae gesmous het.
Toe slaan die resessie en André se besigheid droog op. Die manne besluit toe om hul kragte saam te snoer as vennote. Saterdae het hulle hul houtprodukte in die Weskus Mall uitgestal.
Geleidelik het bestellings begin inkom en kon hulle ’n klein werkswinkel begin. Daarna kon hulle nog twee mense in diens neem.
Teen Januarie 2014 het Wayne Dalton (50) bygekom as derde vennoot. Inside Out het toe na hul huidige groot vertoonlokaal in die Marais-nywerheidsgebied in Vredenburg geskuif en later nog ’n werkswinkel oopgemaak met sowat 20 mense in diens.
Die vinnige groei was egter onbeplan en daarom moes harde sakebesluite vroeër vanjaar geneem word om hul uitgawes binne begroting te bring. Die werkswinkel is derhalwe gesluit. Soos Jaco sê, hulle moes op die harde manier leer hoe belangrik ’n begroting en ’n sakeplan is.
“Ons het nie eens daaraan gedink tot ons gesien het dit is nodig nie. Jy kan nie ’n besigheid doeltreffend bedryf daarsonder nie,” beaam André.
Sedertdien het vele ander mense ook begin om uit palette meubels te maak en is dit nie meer verniet te kry nie, maar die manne gun die ander sukses. Soos Jaco sê, hy weet hoe dit voel om uit ’n motorhuis te werk. “Daai ou in sy garage probeer ook maar net ’n lewe maak en ek wens almal sterkte toe.”
Die manne is ook nou betrokke by El Petra Dissipelskapskool om die jong manne daar vaardighede in meubelmakery te leer.
Buiten meubels stal Remo Lombard ook sy metaalkuns uit in hul vertoonlokaal.