Hansing Engineering vier vanjaar 25 jaar van topgehalte dienslewering aan getroue kliënte.
Dié ingenieursmaatskappy spesialiseer in die hittebehandeling, sweis en masjinering van masjienkomponente en is 24/7/365 beskikbaar, danksy ’n uitgebreide voorraad in hul stoor.
Hulle bedien verskillende bedrywe wat insluit grondverskuiwing, petro-chemies, mynbou, staalwerk en seevaart.
Die afgelope vyf jaar staan Eugene Petzer (39) en Karien Terblanche (57) aan die stuur van sake.
Hulle deel eienaarskap met die oorspronklike stigter, Hans Herrmann, wat in 2011 afgetree het.
Petzer streef daarna om te alle tye diens van eerstewêreldse gehalte te verskaf: “Die bes moontlike produk in die kortste moontlike tyd.”
Hulle spog met wêreldklastoerusting soos vyf oonde om komponente met hitte te behandel.
Petzer skryf hul sukses toe aan basiese goeie sake-etiek soos eerlikheid.
“As jy ’n fout gemaak het, erken dit, vra om verskoning en maak dit reg,” is sy uitgangspunt.
“Gee vir die kliënt meer terug as wat hy verwag het, ’n verbeterde produk.”
Vanjaar was Hansing se besigste jaar ooit en soos hulle by Hans geleer het, bly Petzer en Terblanche positief en glo dat daar nog groot dinge gaan kom.
Maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie, die hoë standaard word nooit verlaag nie.
Petzer en Terblanche steun swaar op hul middelbestuurspan wat ’n groot bydrae lewer tot die topgehalte werk.
“Hulle kwyt hulle goed van hul taak.”
Die werkspan werk lekker en is gelukkig, en volgens Terblanche kan ’n mens dit duidelik sien op ’n Vrydagaand waar daar tot laat gewerk moet word en die ouens dit fluit-fluit doen.
Sedert Hansing se begindae in 1991 het die personeel aangegroei tot 22.
Hansing is bekend vir sy uitstekende kultuur van opleiding.
Petzer se begindae
Petzer het self as vakleerling in 1997 by die maatskappy begin. “Hans het my aangestel, my help oplei en ‘grootgemaak’. Ek is hom ewig dankbaar vir die opleiding en kennis wat hy my gegee het. Dit is ’n voorreg om die afgelope 19 jaar saam met hom te kon werk.”
Petzer het in sy tyd al tot sowat 23 mense se opleiding bygedra.
“Baie van hulle het later hul vlerke gesprei en het vandag suksesvolle loopbane, danksy die stewige fondament wat hier gelê is.”
Terblanche onthou eerste dae
Terblanche weer, was by Weskus Kollege werksaam toe Hans haar ’n werk aangebied het. “En hier sit ek vandag nog, vyftien jaar later,” vertel Terblanche.
Sy onthou dat daar net ’n tikmasjien was. Sy moes Hans oorreed om ’n rekenaar te koop sodat sy die boeke daarop kon doen.
“Ek moes vinnig alles oor die besigheid leer,” het Terblance gesê.
Ook sy het net lof vir haar leermeester. “Wat ons bereik het, is te danke aan Hans.”
Nou gun hulle hom sy rus.
Hansing Engineering se oë is op die toekoms gerig. Hulle gaan voortbou op dit wat reeds tot stand gebring is en net daarop voortbou.
Met ’n uitstekende naam in die bedryf, is hulle van plan om net te verbeter en te verbeter.