Nog altyd met ’n grappie en ’n storie, lyk bekende afgetrede sakeman, Hans Herrmann, gelukkig met sy nou rustige lewe.
Hy en vroulief Rina het ’n stukkie grond anderkant Clanwilliam langs die Doringrivier, waar hulle baie tyd spandeer.
Hy kom nog so een keer elke drie maande by Hansing kuier om sy “pensioen op te check” en om so bietjie inhuis-opleiding in sweis en hitte-behandeling te kom gee. “Dis die gryskop-ondervinding wat ek het wat maak dat ek die opleiding beter kan gee,” skerts hy.
Hans het in 1970 uit Duitsland na Saldanha geïmmigreer, saam met die “Duitse mentaliteit”, wat volgens hom beteken dat ’n land sy eie grondstowwe moet ontgin en self produkte moet vervaardig.
Vandag is hy beïndruk met die nuwe tegnologie wat die jonger ouens in die werkswinkel toepas. Maar, hy glo dat hulle dit baie beter kan doen as wat hy dit sou kon doen.
Opleiding was en is sy passie. Hans hoop dat hy ’n kultuur van opleiding by Hansing agtergelaat het. Meer ervare werkers moet die nuwe onervarenes bystaan.
“Ek het die grond omgeploeg, die plantjie gesaai en gekyk hoe dit opkom. Nou moet ander die idee vorentoe neem.”
Hans het in 2011 sy eerste vrou, Ingrid, aan kanker verloor en in dieselfde tyd besluit om af te tree. Sy huidige vrou, Rina, het hy by die Lionsklub ontmoet en saam is die twee lief om in Namibië by die kinders en kleinkinders te gaan kuier of natuurparke te besoek.
In plaas van die geraas van masjiene luister Hans nou van sy stoep af hoe die visarend roep en hou hy die wild langs die rivier dop, gerus in die wete dat sy lewenswerk in goeie hande is.