Die Langebaan Hair Academy het verlede week geskiedenis gemaak en die eerste geakkrediteerde handelstoetssentrum vir die nuwe haarkapperhandelstoets geword.
Daleen Stuart van die akademie verduidelik dit was ’n lang proses om as ’n toetssentrum te registreer, maar sy sê die proses was die moeite werd.
“Haarkappers, soos ander ambagslui, moet gekwalifiseer en geakkrediteer wees, en nou kan hulle dié kwalifikasie hier aan die Weskus voltooi,” verduidelik sy. Die nuwe Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) se kwalifikasie is onlangs ingestel en nuwe haarkappers moet dus ’n nuwe handelstoets voltooi.
Volgens Stuart is dié nuwe kwalifikasie meer omvattend as die vorige weergawe aangesien dit die haarkapper in staat stel om alle soorte hare te kan knip, kleur en stileer.
“Waar haarkappers voorheen in net een van die haarsoorte moes spesialiseer, kan hulle nou Kaukasië, afro en allerhande haarsoorte doen. Daar is vele haarkappers wat jare reeds in die bedryf is en nou ook hul amptelike kwalifikasie kan kry,” sê sy.
Die span van die akademie het in 2020 besluit om ’n toetssentrum by hul dienste te voeg. Sedertdien is vorms ingevul, veranderinge gemaak en die nodige voorskrifte nagekom sodat haarkappers hul kwalifikasie hier kan voltooi. Die kursus duur vier jaar, wat 18 maande teorie insluit. Die res van die kursus bestaan uit ’n praktiese element.
“Ons het nou saam met die nodige departemente gewerk, want dit was ’n heel nuwe proses vir hulle ook. Dit was soms frustrerend, maar ons kan nou amptelik sê ons bied die diens. Dit is wonderlik dat ons nou ons eerste studente deur hul kwalifikasietoets kon sit en hulle as amptelik gekwalifiseerde ambagslui te hê.”
Stuart meen daar is ’n groot vraag na haarkappers asook opleiding vir diegene wat wil kwalifiseer. Sy meen dit is ’n beroep waardeur belangstellendes hul passie kan volg en ook hul eie onderneming kan begin.
Haarkappers wat jare lank reeds werk, kan ook hul kwalifikasie by die akademie se toetssentrum doen. Stuart sê indien nodig, kry die stiliste bykomende opleiding en voltooi dan hul toets. Enigeen wat nog inligting nodig het, kan die Langebaan Hair Academy aanlyn besoek.