Die motorfietsgemeenskap van die Weskus is in rou gedompel nadat ’n gru-ongeluk Sondagmiddag die lewe van vyf plaaslike motorfietsryers geëis het.
Volgens AO Yolanda Kotze, woordvoerder van Saldanha-polisie, het dié ongeluk omstreeks 14:45 op die MR 559-pad (tussen Saldanha en Langebaan) naby Sunrise Energy gebeur.
Kotze sê ’n bakkie wat vanuit Saldanha se rigting onderweg na Langebaan was, het met ’n groep motorfietsryers, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, gebots.
Vier mense is op die toneel dood. Nog een is gehospitaliseer en het later dieselfde dag aan sy beserings beswyk.
Twee van die oorledenes was in die bakkie vasgekeer wat weens die botsing in vlamme opgegaan en heeltemal uitgebrand het.
“Wat presies gebeur het, is tans net bespiegelinge. Die polisie sal die saak verder ondersoek,” het Kotze verduidelik.
Gert Venter van die plaaslike Road Thunders-motorfietsklub sê daar was Sondagoggend ’n groot motorfietssaamtrek by die Plaas Môl-padstal naby Hopefield om geld vir ’n plaaslike diereliefdadigheidsorganisasie in te samel. Dié saamtrek is deur die Road Thunders-klub gereël.
“Die saamtrek was baie suksesvol en lekker en daar het selfs ryers vanuit die Kaap by ons aangesluit,” vertel hy.
“Ons het saam ontbyt geëet en toe die ryers begin verdaag, het ek afgekondig dat almal asseblief veilig moet huis toe ry.”
Venter sê hy en sy vrou het later Langebaan toe gery en vinnig by Laguna Mall stilgehou om ’n paar artikels te koop. Vandaar kon Venter ’n gewoel en rook in die verte op die pad sien en het hulle die sirenes gehoor.
“Ek het vir my vrou gesê as ons nie vinnig by die sentrum gestop het nie, kon dit net sowel ons in die botsing gewees het.”
“Die motorfietsgemeenskap is geruk deur hierdie tragedie,” het ’n hartseer Venter bygevoeg.
Hy sê sommige van die ryers wat in die botsing betrokke was, was deel van die oggend se saamtrek, maar nie almal nie.
“Dit was ’n heerlike sonskyndag en ons vermoed die ryers het iewers anders gaan kuier ná hulle by die Plaas Môl weg is. Die ongeluk het seker gebeur toe hulle op pad huis toe was.”
Hy sê die paartjie in die bakkie is ook bekende motorfietsryers van die Weskus. Hulle het egter nie die oggend aan die saamtrek deelgeneem nie.
Daar is Maandagoggend nog een motorfietsryer uit die hospitaal ontslaan en nog twee word met ernstige beserings versorg.

