Só vermink dat net die tatoeëermerke op sy lyf aan die polisie en sy geliefdes kon bewys dat dit Riedewaan “Wannie” Jan (33) was wie se lyk langs ‘n sandpaadjie in die duine by Diazville, Saldanha, gekry is.

‘n Lid van die publiek, wat per abuis naby die sandmyn verdwaal het, het Wannie se ontbinde lyk langs die pad sien lê. Volgens kapt. Tania Helfrich, die distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, is die polisie die afgelope Maandagmiddag (5 Oktober) omstreeks 16:45 oor dié gru-vonds ingelig.
‘n Verdagte, Dimitri Ashwen Williams (36 ) is later die aand in hegtenis geneem. Hy het Woensdag 8 Oktober in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Wannie, ‘n veiligheidswag by die Saldanha-hawe, is voorverlede Saterdagaand (27 September) die laaste keer in Diazville, Saldanha, gesien.
Na wat vertroulik verneem word, het hy in ‘n stryery betrokke geraak.
Wannie is in dieselfde top wat hy dra op een van die laaste foto’s wat hy op sy Facebook-blad geplaas het – ‘n swart langmou-hoodie met die woord “Malibu” voorop – gekry.
Sy familie is na wat verneem word van Carnarvon in die Noord-Kaap.
Mense van die Weskus wat hom geken het, beskryf hom as “baie vriendelik en behulpsaam; altyd met ‘n glimlag”.
“Hy was ‘n saggeaarde mens,” sê ‘n vriend wat nie sy naam genoem wil hê nie. “Hy was altyd gewillig om te help; maklik geglimlag.”
Williams se hofsaak is uitgestel tot Woensdag 15 Oktober en hy bly in hegtenis.
Die polisieondersoek na die saak is nog aan die gang. Mense met inligting wat lig op die voorval kan werp, kan AO Heinrich Schmidlin by 082 324 0533 bel.



You must be logged in to post a comment.