Die beoordelaarspaneel van die 19de jaarlikse FNB- Sauvignon Blanc- SA Top-10-kompetisie het die beste wyne van Suid-Afrika se veelsydigste kultivar in ‘n taai mededinging uit 167 inskrywings van 98 produsente bekroon.
Die Weskus se Groote Post-wingerde in Darling se Sauvignon Blanc het die Top-10 gehaal.
Sauvignon Blanc Suid-Afrika het die wenners op Woensdag 15 Oktober op die Vergelegen-wynlandgoed aangekondig.
Tydens ‘n middagete op die rivieroewer het die seremoniemeesters Ryan O’Connor en Success Lekabe gaste op ‘n FNB- Top 10-“Mystery Road Trip” geneem om die topwyne uit 20 finaliste te onthul. Gaste moes met die hulp van ‘n geïllustreerde kaart en ‘n gemengde speellys – met kunstenaars soos Adele, Bon Jovi en David Kramer – hul pad in ‘n viering van streekdiversiteit vind.
Die 2025-FNB- Sauvignon Blanc SA Top-10 wys opnuut die besonderse omvang van die kultivar – vier wyne uit die kusstreek, drie uit die Kaapse suidkus, twee uit die Breederiviervallei en een uit die Wes-Kaap. Die ander Top-10- Sauvignon Blanc-wyne kom van Ataraxia, Cederberg Wines, Delaire Graff Coastal, Kleine Zalze, Maastricht, Merwida, Rietvallei, Steenberg en Vrede en Lust.


