Groot planne vir Saldanha en Vredenburg

’n Opgeknapte, ekonomies gefokusde ontwikkelingsone is vir Saldanha op die horison met Vredenburg wat binnekort sal volg.


’n Opgeknapte, ekonomies gefokusde ontwikkelingsone is vir Saldanha op die horison met Vredenburg wat binnekort sal volg.

Dit is een van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se planne wat as ekonomiese katalisator in plaaslike dorpe sal dien.

Die planne om spesiale aanslaggebiede (Special Rating Areas (SRA)) te sig, is Donderdag saam met die munisipaliteit se Baobab-projek by die maandelikse Weskus-sakekamer se netwerkgeleentheid voorgelê. Die nuut opgeknapte Weskus-fossielpark in Langebaanweg was die gasheer vir die geleentheid.

Die plaaslike chemikus en sakevrou Janette Cawood het oor haar wêreldklas-laboratorium in Saldanhabaai gepraat.

Cawood Laboratories is veral besig met ontledings van swaar metale wat by die Saldanha-hawe uitgevoer word, maar doen ook ontleding vir mynbedrywighede.

Cawood sê sy hoop om binnekort met die ontleding van watermonsters te begin.

Herman Jonker, ’n senior bestuurder vir nywerheidsontwikkeling by die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het gesê Saldanha-inwoners het reeds begin inkoop in die idee van SRA’s. Dié sone werk soortgelyk aan ’n belastingbetalers­vereniging waar sakelui en huiseienaars in ’n gebied saam ’n gefokusde sakeplan vir hul buurt opstel. Infrastruktuur en aanvullende skoonmaakdienste kan dan in die gebied opgegradeer word danksy ’n ekstra heffing wat dan van grondeienaars en ondernemings deur die munisipaliteit geïn word.

In hierdie stadium bereken SBM die heffing op 10% van eienaars se huidige rekening.

“Ja, die munisipaliteit is verantwoordelik vir die opgradering en skoonmaak van ons dorpe, maar met meer druk op munisipaliteite om basiese dienste te lewer, moet alternatiewe ondersoek word,” sê Jonker.

Die SRA-groep is dan grootliks verantwoordelik vir sy gebied.

Sowat 36 sulke SRA-gebiede is reeds in die Kaapse metropool gestig. In Muizenberg en die Kaapstad Internasionale Lughawe word sulke gebiede reeds suksesvol bestuur.

In Vredenburg is die Wesbank-korridor in Saldanhaweg een só ’n SRA wat deur die munisipaliteit gevestig is. Jonker sê die ideaal is vir ondernemings om hul munisipaliteite te nader vir SRA’s en nie andersom soos in die Wesbank-korridor se geval nie. ’n Vergadering met Vredenburg-sakelui is afgelas nadat geen reaksie van hulle ontvang is nie.

Volgens Darrelle Scheepers, voorsitter van die Weskus-sakekamer, behoort sakelui in te koop as hulle ekonomiese groei in die streek wil help aanwakker.

Nog ’n dryfveer vir ondernemings en ’n ekonomiese belegging is die Baobab-projek. Volgens Cornell de Kock van die munisipaliteit se ekonomiese ontwikkeling- en strategiese beplannings­afdeling, sal dié projek vir toeganklike internetverbinding vir elke huishouding van stapel gestuur word sodra die nodige finansiering verseker is.

You need to be Logged In to leave a comment.