Met ’n geakkrediteerde kwalifikasie in die hand is die toekoms blink vir die manne van Jakhalsfontein Ministry.
Die groep van 12 het die kursusse in vier weke voltooi en hul amptelike sertifikate Vrydag (6 September) by ’n oorhandigingseremonie ontvang.
Baie van die jongmanne wat in Jakhalsfontein woon, kom uit moeilike omstandighede en selfs dwelmverslawing, en met dié kursusse staan hulle nou ’n kans om iets van hulself te maak.
Die kursusse is in twee gedeel en bestaan uit sweiswerk en ketelmakery asook siviele konstruksie. As deel van Norsnet in Vredenburg se ondernemings ontwikkeling begroting, het hulle hande gevat met die Jesus Christ Ministries, ’n organisasie sonder winsbejag wat funksioneer as Jakhalsfontein Ministry om hierdie kursusse ’n werklikheid te maak. Die manne is met die hulp en leiding van Tommy Theunissen, opleidingsbeampte van New Hope Training, met die regte kennis toegerus.
Volgens ds. Gert Feldtmann van Jakhalsfontein Ministry is die bediening gegrond op drie ankers, naamlik die geestelike, emosionele en fisieke ankers. “Ons hele bedoeling is om die manne te help om die drie ankers te vestig en selfs te versterk. Die kursusse fokus op die fisieke anker om hulle van werkskwalifikasies te voorsien sodat hulle werk kan kry.”
Drie van die manne, wat deel was van die kursusse, het met Weslander oor hul ervaring gepraat. Volgens Terrance Brown is hy baie dankbaar vir dit wat vir hulle aangebied word. Brown meen waar hy homself in ’n brose plek in sy lewe bevind het, het die Here hom opgelig en ’n nuwe vaardigheid gegee.
“Ek is dankbaar vir almal wat die Here gebruik het om hierdie geleentheid vir ons beskikbaar te maak. Ek het nog nooit in my lewe bouwerk gedoen nie, maar die manier hoe die opleiding gegaan het, het my weer in myself laat glo,” sê Brown.
Chadwin Solomons sê die foute en keuses wat hy in sy lewe gemaak het, het hom altyd derde of vierde in die ry gelaat wanneer dit by sulke geleenthede gekom het. Maar met hierdie kursus is net gevra wie stel belang en die geleentheid het hom weer waardevol laat voel.
Lance Matthews sien uit na die dinge wat voorlê en die deure wat vir hom kan oopgaan. “Dit is die Here se werk en Sy geleentheid wat hy voorsien het. Ons voel weer mens.” Volgens Matthews het hulle almal al baie in die lewe verloor – veral hul selfwaarde – maar om deel te wees van iets groters en met ’n doel, is wonderlik.
Die manne is gretig, gereed en opgewonde vir die deure wat vir hulle sal oopgaan met hul kwalifikasies.. As jy wil help of van enige geleenthede weet, kontak ds. Feldtmann by 076 913 8460.