Groep se bates nou oor R10 miljard kerf

Brimstone Investment, wat belange besit in onder meer Life Healthcare, Sea Harvest en Oceana, het vir die eerste keer sy batewaarde tot meer as R10 miljard verhoog.


Brimstone Investment, wat belange besit in onder meer Life Healthcare, Sea Harvest en Oceana, het vir die eerste keer sy batewaarde tot meer as R10 miljard verhoog.

Die swartbeheerde beleggingsbeheer­firma van Kaapstad het dié prestasie in sy boekjaar tot einde Desember behaal. Brimstone besit belange in die visserymaatskappye Sea Harvest en Oceana, die herversekeraar Aon Re Africa, die eiendomsmaatskappye Equites en PFG, asook in Life Healthcare. Hy hou ook aandele in die bemagtigingsmaatskappye van MultiChoice en MTN, onderskeidelik Phuthuma Nathi en Zakhele Futhi. Sy wins het in die afgelope jaar van R147 miljoen tot R71 miljoen geduik. Mustaq Brey, uitvoerende hoof en ’n groot aandeelhouer, het dit toegeskryf aan die afskrywings in die waarde van beleggings weens aandeelprysbewegings.

Die hele aandeelmark het swak presteer in die jaar vergeleke met die vorige jaar. Veral die waarde van sy beleggings in Life Healthcare, Stadio Holdings, Tiger Brands en Equites het baie gedaal. Die verlies van sy Lion of Africa-versekeringsmaatskappy het egter ook verdiep en sy wins afgetrek.

Brimstone se belange in die finansiële bedryf gaan krimp nadat hy in November aangekondig het hy gaan Lion of Africa toemaak. Brey het gesê Lion of Africa mag nie meer nuwe polisse uitskryf nie en die laaste polis sal teen die einde van die jaar verval. Lion of Africa is een van drie filiale van Brimstone.

Nog ’n filiaal is die Kaapse kleregroep House of Monatic. Dié filiaal se inkomste het met 9% tot R157,9 miljoen gedaal en sy verlies het ook verdiep tot R44,1 miljoen. Dit is aan moeilike handelstoestande toegeskryf.

Brimstone is in 1995 as ’n gemeenskapsbeheerde bemagtigingsgroep met aanvanklike kapitaal van R3 miljoen op die Kaapse Vlakte begin.

Met sy notering in 1998 het hy ’n beleggingsportefeulje van R500 miljoen gehad. Brimstone het in die boekjaar R239,3 miljoen se dividende uit sy aandeelhouding in die verskillende ondernemings ontvang – ’n styging van 7%. Die grootste dividend wat hy ontvang het, is van Phuthuma Nathi van R92,6 miljoen, maar die dividende ontvang het net 1,5% gestyg. Sy netto batewaarde per aandeel het 10% tot R16,15 gedaal.

Sy belang in Sea Harvest dra die meeste tot sy batewaarde by, gevolg deur Oceana (17%-belang) en Life Healthcare (3,4%-belang). Dié waarde van die beleggings word almal op meer as R1 miljard geplaas. Brimstone het onlangs aangekondig hy gaan nog 8 miljoen aandele in Oceana verkry en het in die jaar ook vir Viking Fishing verkry. Brey ontken dit is ’n geval van hul belange wat in die visbedryf vergroot; volgens hom handel dit oor die voedselsektor waarin hulle uitbrei. Hy sê ’n voorbeeld daarvan is Sea Harvest wat onlangs vir Ladismith Cheese verkry het. Nog ’n voorbeeld is die aankondiging onlangs dat Brimstone deel is van ’n konsortium wat Clover se aandeelhouers wil uitkoop.

Ná ’n bohaai oor die Israeliese groep wat betrokke is en die beweerde menseregteskending van die maatskappy in Palestyne het Brimstone aangekondig hy heroorweeg sy betrokkenheid. Brey sê die direksie oorweeg dit nog. ’n Dividend van 45c per aandeel is verklaar (2017: 42c).

You need to be Logged In to leave a comment.