Lapa Uitgewers en die bekroonde skrywer Wendy Maartens het pas aangekondig dat die prenteboek Drie hoera’s vir Denver gratis en in vier Suid-Afrikaanse tale in PDF-formaat beskikbaar gestel word. Dit is as deel van die veldtog 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.
Dié volkleur boek is van 27 November beskikbaar in Afrikaans, Engels, Xhosa en Zoeloe. Gaan na die skakel: https://www.lapa.co.za/KH_GratisStudieGidse om die boek af te laai.
Die belangrike internasionale veldtog, 16 dae van aktivisme, word elke jaar van 25 November tot 10 Desember gehou om bewusmaking te kweek vir die lot van vroue en kinders wat slagoffers van geweld is.
Drie hoera’s vir Denver vertel die aangrypende verhaal van ’n seuntjie genaamd Denver wat baie mooi kan sing, maar begin hakkel nadat sy ma se kêrel by hulle kom bly. Die storie wys op ’n deernisvolle manier hoe dinge uiteindelik beter word nadat Denver die moed bymekaarskraap om sy ma en sy sangjuffrou te vertel dat dinge nie reg is by die huis nie.
Drie hoera’s vir Denver het in 2009 die eerste keer verskyn met illustrasies deur Alida Bothma. Benewens ’n storie, bevat die boek ook belangrike wenke wat ouers en versorgers kan volg om kinders te bemagtig sodat hulle nie sal stilbly oor mishandeling nie.