Drie voorvalle het Vrydag 7 April, wat veronderstel was om ’n vreedsame Goeie Vrydag te wees, in onderonsies tussen gesins- en familielede tot skade aan eiendom en selfs twee sterftes gelei.

’n Man (22) wat na bewering sy pa vroegoggend, omstreeks 02:40, aangerand het, se broer het tussenbeide getree, waarop dié broer met ’n mes in die rug gesteek is. Die aangeklaagde is in hegtenis geneem en het Dinsdag 11 April op aanklag van moord in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

In nog ’n familietwis, omstreeks 19:00 op Goeie Vrydag, het twee broers van St. Helenabaai in ’n stryery betrokke geraak, waarop die een broer die ander broer (56) met ’n mes doodgesteek het. Dit is nog nie bekend of die verdagte in hegtenis geneem is en of hy al in die hof verskyn het nie, maar ’n saak van moord word ondersoek.

Dieselfde dag het ’n 60-jarige man van Porterville ’n klagte van opsetlike saakbeskadiging teen sy 19-jarige dogter aangemeld. Sy was glo onder die invloed van alkohol en het na bewering die huis se vensters stukkend gegooi.

Sy het Dinsdag 11 April in die plaaslike landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025