Byna drie weke nadat ontevrede ouers van St. Helenabaai na Vredenburg se onderwysdepartement-kantoor opgeruk het om ’n griefskrif te oorhandig, is terugvoering Dinsdag (10 September) van dié kantoor ontvang.
Die griefskrif hou verband met die bou van ’n hoërskool in St. Helenabaai. Die departement is van Vrydag 23 Augustus sewe kalenderdae gegee om op die pleidooi van die ouers te reageer.
Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die WKOD, is ’n eiendom vir die potensiële toekomstige ontwikkeling van ’n hoërskool in St. Helenabaai geoormerk.
“Die perseel word tans deur die Wes-Kaapse regering verkry. Dit waarborg egter nie die onmiddellike ontwikkeling van ’n skool nie. Beskikbare geld, die betrokke munisipale dienste en beplanningstoestemming moet ook verkry word. Dit moet alles ooreenstem voordat die ontwikkeling van ’n skool kan voortgaan. In hierdie stadium word nie vir die ontwikkeling van ’n nuwe hoërskool in St. Helenabaai as ’n nuwe skoolprojek binne ons mediumtermyn-begrotingsraamwerk begroot nie,” sê Hammond.
Volgens die raadslid Thyrone Williams is die gemeenskap van Laingville, St. Helenabaai, woedend omdat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) so lank geneem het om terugvoer te gee. “Ons beskou dit as ’n klap in die gesig en dat die WKOD ons ondermyn. Die gemeenskap vra die afgelope 20 jaar al vir ’n hoërskool – sonder sukses.”
Volgens ’n ouer is dit nie net ’n klap in die gesig nie, “maar ’n duidelike boodskap van die WKOD dat hulle glad nie die belange van ons kinders op die hart dra nie”.
“Ons het net soos alle ander Suid-Afrikaners ons kruisie gemaak en dit is wat ons terugkry,” voeg die ouer by.
In die memorandum dui Williams aan 14 busse ry elke dag na Vredenburg na die onderskeie hoërskole in die gebied. Sy meen die departement betaal miljoene rande vir busdienste terwyl die geld eerder gebruik kan word om ’n hoërskool te bou. Williams meen die terugvoering is teleurstellend, maar hy sal die gemeenskap inlig daaroor en ’n besluit sal dan geneem word oor die pad vorentoe.