G’n nuwe tekens vir kruising oorweeg

Geen bykomende waarskuwingstekens, -strepe of rammelstroke word vir eers vir die dodelike kruising tussen die Weskuspad (R27) en die Vredenburg-Hopefieldpad (R45) oorweeg nie.


Geen bykomende waarskuwingstekens, -strepe of rammelstroke word vir eers vir die dodelike kruising tussen die Weskuspad (R27) en die Vredenburg-Hopefieldpad (R45) oorweeg nie.

Dit is die departement van infrastruktuur se antwoord op Weslander se navraag na aanleiding van die dood van twee studente van die Universiteit Stellenbosch verlede Vrydag (23 Augustus) daar.

Dylan Muller (19) van Kenilworth en Ashley du Toit (21) van die Paarl is dood nadat die Suzuki Swift waarmee hulle van Hopefield na Paternoster onderweg was, by dié kruising onder ’n vragmotor beland het. Muller is op die toneel dood en Du Toit is in die Life Weskus-hospitaal op Vredenburg oorlede.

Volgens Jandré Bakker, ’n woordvoerder vir die departement, voldoen die bestaande padmerke en naamborde aan die vereistes soos uiteengesit in die Suid-Afrikaanse Padverkeerstekenhandleiding. Hy het aangedui dat die hoofdirektoraat van ontwerp moontlike bykomende tekens om veiligheid by die kruising te verbeter, ondersoek. Indien die ondersoek daarop dui dat dit haalbaar is, sal dit deur die distrikspadingenieur aangebring word.

Die studente se dood het weer ou emosies by Elsabe Carstens van Graafwater losgemaak, want haar 23-jarige kind het op 28 November 2014 ook by die kruising verongeluk. Volgens Carstens was die oorsaak ’n ander motoris wat nie by die kruising stilgehou het nie. Die opskrif in Weslander het gelui “Feestyd begin hartseer”.

Carstens het ná die botsing verskeie onsuksesvolle oproepe gedoen dat ekstra waarskuwingstekens by die kruising opgerig moet word. Sy is destyds meegedeel dat hulle nie weer flitsende ligte gaan oprig nie omdat die kabels net eenvoudig gesteel word.

“Hoeveel mense moet nog hul lewe daar verloor?” vra Carstens.

Weslander berig gereeld oor ongelukke by die kruising wat soms ook helderoordag gebeur.

You need to be Logged In to leave a comment.